ToekomsVenster: Bekwaam om reg te help


keuses

Argieffoto.

My broers, ek is self maar alte bewus dat julle vol goeie hoedanighede is en omvattende kennis besit, en dat julle mekaar self op die regte weg kan help. – Rom 15:14

Die woord wat ons in die Afrikaanse vertaling met ‘op die regte weg kan help’ vertaal, beteken eintlik net om te vermaan, raad te gee of tereg te wys. Dis nie ‘n algemene teregwysing nie, skryf Gene Getz, maar ‘n definitiewe vermaning, regstelling en waarskuwing (Sien ook 1 Kor 4:14; Kol 1:28; 3:16; 1 Tess 5:12,14 en 2 Tess 3:15 waar dieselfde Griekse woord gebruik word).

Paulus het in die voorafgaande verse oor die verhouding tussen die mense wat sterk en swak in die geloof is geskryf (14:1; 15:1). Hy benadruk ‘n paar maal dat ons versigtig moet wees in ons oordeel oor mekaar. Hoe kan ons mekaar dan reghelp of vermaan as ons nie oor mekaar mag oordeel nie?

As ons die vers mooi lees, sal ons sien dat Paulus ‘n mate van geestelike volwassenheid in die gemeente veronderstel. Hy skryf dat hulle vol goeie hoedanighede is. Dit veronderstel dat die gemeente ‘n voorbeeldige lewenswyse gehad het. Hy skryf ook dat hulle omvattende kennis besit (Sien ook 1 Kor 13:2). Waarskynlik verwys dit na hulle kennis van God se wil.

In hierdie twee eienskappe van die gemeente vind ons twee sleutels wat ons in staat stel om mekaar te vermaan. As ons eie lewe in ooreenstemming met God se Woord is, is ons in staat om ander reg te help en te vermaan. Ons beoordeling van hulle lewe is nie volgens ons voorkeure of afkeure nie, maar is gebaseer op die Woord van God. Immers, die Woord van ‘het groot waarde om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en ‘n regte lewenswyse te kweek, sodat die man wat in diens van God staan, volkome voorberei en toegerus sal wees vir elke goeie werk’ (2 Tim 3:16,17).

God gebruik ons om mekaar te vermaan. Hy verwag egter van elkeen wat ‘n ander reghelp om dieselfde maatstaf op homself en haarself toe te pas. Hy verwag dat ons self sal lewe volgens die eise wat ons aan ander stel. Hy verwag dat hierdie eise in ooreenstemming met die Woord van God sal wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.