“As jy jou wy aan dié wat honger het, as jy voorsien in die behoeftes van dié wat in nood is, sal die lig vir jou skyn wanneer dit donker is, sal wat vir jou nag is, word soos die helder middag.” – Jesaja 58:10
Redding is verseker belangrik, maar Jesus het baie meer gepraat oor die Koninkryk van die Hemel voor die graf, as oor die Hemel self. Hy leer ons dus geweldig baie oor die lewe hier en nou. Waarom sou Jesus so baie oor die hier en nou gepraat het as dit nie vir Hom belangrik was nie? Want die hier en nou IS vir Hom belangrik!
Ons is nie slegs gered van die straf vir ons sonde deur die werk van Jesus Christus aan die kruis nie, maar vir ’n lewe van oorvloed NOU reeds. Ons is gered om die Koninkryk van die Hemel aarde toe te bring, om die lewe wat God vir ons bestem het te ervaar en beskikbaar te stel vir dié rondom ons.
Redding is nie om ’n verkyker op te tel en net die heeltyd na die toekoms te staar nie; dit is om ’n vergrootglas só op te tel en om te sien hoe God lewe kan bewerk in elke terrein van ons lewens en samelewing hier en nou.
Dink hieraan
Oorweeg die wonderlike belofte in ons teksvers. Dis ʼn opdrag met ʼn heerlike belofte.
Dis verruklik dat, wat doodgewoon van Christene verwag kan word, met só ʼn belofte opgevolg word. Is daar enige rede waarom ons nie gehoorsaam wil wees nie?
Honger en verwaarloosde mense is volop. Straathoeke is vir baie ʼn tuiste. Daar is dus oorvloedige geleenthede om te doen wat die Here van ons vra.
Gebed
Vader, ek wil nie iets misloop in die lewe deur om my hele lewe deur ’n verkyker te kyk nie. Ek wil graag U hand vat en saam met U deelneem aan U bevrydende werk in die wêreld. Amen.
- ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.