ToekomsVenster: Belangrik in God se oë

kinders

Foto: Rene Bernal/Unsplash.com

Matteus 18:1-5 – In daardie tyd het die dissipels by Jesus gekom met die vraag: “Wie is die belangrikste in die koninkryk van die hemel?” Hy het ‘n kindjie nader geroep en hom tussen hulle laat staan en gesê: “Dit verseker Ek julle: As julle nie verander en soos kindertjies word nie, sal julle beslis nie in die koninkryk van die hemel kom nie. Wie homself gering ag soos hierdie kindjie, hy is die belangrikste in die koninkryk van die hemel. En wie so ‘n kindjie in my Naam ontvang, ontvang My.”

Ai, die gedurige sug na erkenning en belangrikheid. Waarom sou dit so belangrik wees om belangrik te wees? Dalk skuil daar ʼn gevoel van minderwaardigheid in die meeste van ons.

Dit is opmerklik hoe beïndruk ons met belangrike mense is. As jy darem die naam van ʼn prominente persoon in gewone geselskap kan noem kry die mense die boodskap dat jy nie spreekwoordelik “van hier” is nie.

Dit is mos wie jy ken en nie wie jy is nie, so omgekeerd en verkeerd is ons uitkyk op die lewe. Belangrike mense kan deure oopmaak, kan voorspraak doen, kan vir jou ʼn lansie breek. Belangrike mense lig jou uit die gewone en plaas jou op ʼn platform, dit maak jou ʼn gesiene persoon.

Is alle mense nie belangrik nie, inderdaad. By God is daar nie onderskeid nie. Elkeen is na sy beeld en gelykenis gemaak, daarin lê jou belangrikheid opgesluit. Elkeen het ʼn nommer pas taak en roeping, dit bevestig jou belangrikheid.

Belangrikheid in mense se oë maak geen hond haaraf by God nie. Hy gooi nie name rond om erkenning en posisie te kry nie. Daar is geen belangriker naam as syne nie.

Net die feit dat God jou in Christus Jesus uitgekies het om syne te wees, is reeds ʼn sterk genoeg aanbeveling. Jy het niks meer in hierdie wêreld nodig nie.

Dit is mos nie waar jy bly, ry en kry wat waarde toevoeg aan jou lewe nie. Dis wie jy is, jou integriteit as mens en jou gehoorsaamheid aan God.

Om hierdie belangrike beginsel te demonstreer roep Jesus ʼn aantal kindertjies bymekaar. Dit moes kosbaar gewees het. Die outjies is nog so onaangeraak deur die lewe. Hulle is prontuit eerlik en nog nie gewoond aan masker dra nie. Wat jy sien is wat jy kry, by wyse van spreke.

Mens kan seker die woord “onskuldig” gebruik alhoewel ons uit ervaring weet dat kindertjies ook vindingryk onnutsig kan wees. Hulle het egter nie die verwysingsraamwerk van ʼn volwasse mens nie en juis daarom kan ʼn mens baie vergewe en verskoon.

Kindertjies is nie aanstellerig nie tensy dit van die huis af kom. Kindertjies speel sonder om stand, posisie, status, kleur of konteks raak te sien.

Ons kan baie leer by kinders.

Jesus sê ons moet soos hulle word.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.