ToekomsVenster: Beleef die oomblik

fotos

Foto: Cole Keister/Unsplash.com

Beginsels vir ʼn gelukkige lewe:

  1. Omarm die lewe, dis ʼn geskenk van Bo
  2. Droom groot
  3. Maak klaar met gister

Vandag bespreek ons beginsel nommer 4: Beleef die oomblik, dis al wat ons regtig het!

Ons lewe tussen gister en môre.

Gister is verby, vir altyd. As gister ʼn goeie ervaring was, wees dankbaar. As dit onaangenaam was, leer ons uit ons en ander se foute en tref reëlings om dit nie weer te herhaal nie. Daar mag woorde van vryspraak nodig wees, teenoor jouself en teenoor ander, doen dit gou. Moenie uitstel nie. Gister is verlede, water onder deur die brug, laat dit gaan en geniet die herinneringe.

More lê in die toekoms. Van more weet ons bitter min. Ons weet nie eers of ons dagboekinskrywings sal materialiseer nie. Jy kan, mag en moet noodsaaklike voorbereidings tref dat môre so ver as menslik moontlik goed afloop, maar behou nederigheid. My ma het my altyd gemaan om nie te vergeet om te sê “as die Here wil nie”. Hy is die hoofkarakter in alles. “Wat wil U hê moet ek doen” is die vertrekpunt vir alle optrede. Die Bybel sê moenie oor môre bekommer nie. Môre sal vir homself sorg. God is reeds daar.

Tussen gister en môre lê vandag, die hier en nou, eintlik net die oomblik. Ons koppe is gewoonlik eerder by gister of môre as vandag, veral nie die oomblik nie. Dit is soos om ’n motor te bestuur. Wanneer jy jou bestemming bereik wonder jy hoe jy daar gekom het. Jy onthou min van ratte verwissel, by verkeersligte luier of raaksien wat rondom jou gebeur. Indien wel is dit gewoonlik iets opspraakwekkend, buite die gewone wat die aandag trek. Sirenes wat loei of mense wat by ʼn ongelukstoneel vergader. Dan neem ons waar totdat ons weer in ons outomatiese staat ingly.

Toets jouself aan die einde van die dag, trouens, dalk sommer nou. Wat van dit wat deel van jou dag tot hiertoe was, het jy regtig beleef?

Ontbyt, het jy dit regtig geproe, die teksture, smaak, vorm en inhoud? Die groet van jou geliefdes voordat julle die dag individueel aanpak, die omhelsing (was daar een?), die woorde van waardering (ek het jou lief, of sterkte vir jou dag, of ek dink aan jou), die stilstaan by die motorhek terwyl dit toeskuif (verwondering vir elektriese motors of waardering vir hierdie luukse).

Goed, dis dalk te veel gevra om elke oomblik intens te beleef maar as ons nie iewers begin om iets daarvan te beleef nie, gaan die lewe by ons verby.

So het gister en eergister (die dag van te vore, verlede week, maand) gekom en gegaan en al wat jy het is die foto’s op jou selfoon. Die gevoel het jy nooit beleef nie. Dis ʼn foto sonder konteks, inhoud, ervaring, warmte en gloed.

Ek weet nie of ek die einde van hierdie dag gaan sien nie, jy ook nie. Die lewe is onseker, net God leef sonder om te wankel. Ek het net die oomblik. Ek moet dit beleef. En jy?

Spreuke 22:19 – Ek onderrig juis vir jóú vandag sodat jy op die Here kan vertrou.

Hebreërs 3:7-8 – Luister daarom na wat die Heilige Gees sê: “Vandag, as julle sy stem hoor, moet julle nie hardkoppig wees nie, soos julle voorvaders toe hulle in opstand gekom het en My in die woestyn op die proef gestel het.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Kornel ·

Pragtig. Dis vir my hard om te glo dat as jy na die kommentaar kyk wat gelos word op die tipe “nuus” is daar maar baie min. As daar n moord berig is, sit mense aandagtig en lees en los sommer baie kommentaar. Is dit omdat dit naby ons is?? Raak dit ons?? Waarvan die hard oor loop is die mond van vol. Ja dit is belangrik om te weet wat gaan aan. Maar die Here het die 1ste en laaste se. As ons almal net vervul word met Sy Gees, SAL die dinge in hierdie land en wereld verander. Ek kan nie sonder my Skepper n oomlik gaan nie. So kan my gesin ook nie en so ook nie jy nie. GeSeende dag vir almal. Mag die Here vandag jou lei, behoed en bewaar met Sy LIEFDE.

Rentia ·

Dankie dis pragtig en diep woorde wat ek verseker op my hart skryf.
Geseende en liefdevolle dag vir almal.

Wonder maar net ·

Ek wil bitter graag deel wees van God se kinders, maar ek weet nie hoe om tot daar te kom nie. Ek bid, maar nie altyd nie, ek glo in God. Baie dankie vir die mooi woorde.

Juliana ·

@Wonder maar net: Die feit dat jy die behoefte uitspreek om deel te wees van God se kinders beteken dat die Heilige Gees reeds in jou werk. Jesus het gese, net die wat Die Vader my gee, kom na My toe. Bid tot God dat Hy die waarheid van Sy liefde aan jou openbaar sal maak. Die liefde wat Hy betoon het deur Sy Seun Christus aan die kruis te laat sterf om jou sonde las te dra. Bely jou sondes en besef dat jy vir ewig verlore is sonder die eenmalige offer van Christus. Aanvaar dan Sy vryspraak en lewe as ‘n verloste kind van God, ten volle aangeneem in Sy familie. Rus in die sekerheid en vrede wat alle verstand te bowe gaan.

OWO ·

As jy in God glo, is jy reeds deel van God se kinders.Om deel van God se kinders te bly,
moet ‘n lewenswyse word,deur elke dag te glo, vertrou en baie belangrik om gehoorsaam aan God te wees.Bestudeer die Woord en gebruik Matteus 6:5-13 as vertrekpunt in jou daaglikse gebed.Kry vir jou ‘n betroubare geestelike reisgenoot wat jou kan help op die pad.Dit kan ‘n goeie vriend/vriendin wees.Baie sterkte.

Erwee ·

@Wonder maar net: “The highest form of Worship is OBEDIENCE” (met erkenning aan Jeanne Mayo).

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.