ToekomsVenster: Beleef meer

(Foto: Catalin Pop/Unsplash)

Dit is die dag wat die Here gemaak het; laat ons daaroor juig en bly wees. – Ps. 118:24

Dalk is jy ook daaraan skuldig dat die dag by jou verby gaan terwyl jy bykans geheel en al meganies opgetree het.

Jy bestuur jou motor en wonder hoe jy by jou bestemming uitgekom het omdat jou aandag op ander plekke was. Jy eet en wonder wat jy geëet het en hoe dit geproe het want jy was op outomaties ingestel. Jy gesels maar hoor nie wat die persoon sê nie en moet vriendelik vra dat hy dit net sal herhaal. Jy hoor ʼn naam en vergeet dit onmiddellik. Jy kyk maar sien nie, luister maar hoor nie, doen maar beleef nie.

Dit is eintlik net vorm, uiterlik, amper soos ʼn masjien wat aan en afgeskakel word.

As leef “teenwoordigheid” beteken (“presence”, bewus wees van) hoeveel het jy dan vandag geleef? As ʼn dag 16 ure het vandat jy opstaan totdat jy gaan slaap, hoeveel van die lewe het by jou verby gegaan? Wanneer laas was jy volledig bewus van wat rondom jou en in jou gebeur?

Dit vra dissipline en ʼn pro-aktiewe ingesteldheid om “bewustelik-bewus” te leef. Dit vra energie en fokus.

Die wyse waarop ʼn mens so ʼn lewenshouding kweek is om bewustelik “aan te skakel, in te skakel” op die oomblik, die hier en nou.

Gister is water onder deur die brug. Môre het nog nie gebeur nie.

God se genade is genoeg vir vandag, meer nog, vir nou, hierdie oomblik.

Ons het drie dimensies in ons menswees, elkeen hiervan moet as’t ware aangeskakel word.

Word bewus van jou liggaam en wat daarin aangaan. Is daar ongemak en waar is dit? Voel jou voete op die grond, word bewus van jou arms wat langs jou sye afhang. As jy tyd het begin by jou tone en werk tot by die hare op jou kop. Waarvan word jy bewus? Dit kan langer of korter neem afhangende van hoeveel tyd jy het. Jy kan selfs in ʼn oomblik begrond raak, hier en nou tuiskom.

Jou emosies, jou hart as jy wil, wat voel jy? Opstand, irritasie, woede, vrede, liefde, toegeneentheid? Net bewus raak, nie dit beredeneer en probeer verstaan nie maar net erkenning gee aan die emosie.

Jou kop, wat is daar aan die gebeur? Haastig, ongeduldig, besig, herhalende gedagtes, alles oor en oor in iets wat vir jou soos ʼn sirkelgang woed.

As jou liggaam tot rus kom sal jou emosies na vore tree en jou gedagtes rustig word.

Hier, nou, die oomblik, dit is in elk geval al wat jy het. Die volgende oomblik is onbekend maar verken hierdie oomblik in die mate waarin jy dit kan ken.

Beleef meer hierdie jaar.

Dit is die dag wat die Here gemaak het, beleef dit as ʼn geskenk.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.