ToekomsVenster: Beloftes maak skuld

(Foto: Stephan Hauman)

“Laat julle ‘ja’ eenvoudig ‘ja’ wees en julle ‘nee’, ‘nee’. Wat meer gesê word as dit, kom van die Bose.” – Matteus 5:37 (AFR83)

Integriteit is ʼn skaars kommoditeit deesdae, selfs onder Christene. Dit is jammer en strek die Here nie tot eer nie.

Ons het genoeg gehad van politiek en beloftes wat nêrens kom nie. Die nasionale verkiesing in 2024 wink en politieke partye posisioneer hulself reeds om kiesers te oorreed om vir hulle te stem. Beloftes maak is deel van die oefening. Sonder om alle politieke partye oor dieselfde kam te skeer, het kiesers gewoond geraak aan beloftes wat nooit realiseer nie.

Die regering is gou om veral wanneer daar hartseer en verwoestende gebeure was op te daag en die wêreld te belowe. Maande, selfs jare, daarna getuig die mense wat entoesiasties en bemoedig na die voornemens geluister het dat daar niks van gekom het nie.

Gemeenskappe word gekonsulteer en belangrike mense doen by gewone mense, selfs aan huis, aan. Die media is daar en vertoon die oënskynlike empatiese houding by wie ook ál die besoek bring. Met belangstelling word geluister na die plaaslike gemeenskap se uitdagings en allerlei voornemens word gemaak. Sommer volgende week begin dinge betekenisvol verander vir hierdie mense, word met fanfare aangekondig.

Gemeenskapslede keer terug na hul huise en getuig dat die oomblik darem ietwat opwindend was vir die gemeenskap waar daar nie veel gebeur nie. Die belofte word op ʼn rakkie parkeer as nog iets wat tot niks gaan kom nie.

Ons verkwalik politici en amptenare omdat hul so integriteitloos optree, maar is ons konsekwent om wat ons belowe het gestand te doen?

Pa wat belowe dat hy by sy seun se rugbywedstryd sal wees, maar soos gewoonlik nie opdaag nie want iets het voorgeval. Ma wat belowe, boet en sus wat belowe, woorde met geen betekenis en drakrag nie.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.