ToekomsVenster: Beloftes maak skuld

sonsopkoms_Melkbostrand-Boekevat-Copy.jpg

(Argieffoto)

“As jy aan God ʼn gelofte gedoen het, moet jy nie versuim om dit te betaal nie. Hy hou nie van ligsinnige mense nie. Wat jy beloof het, moet jy betaal. Dit is beter dat jy nie belowe nie as dat jy belowe en nie betaal nie.” – Prediker 5:3-4

Ons land, ons wonderlike land Suid-Afrika, word gekenmerk deur goedkoop praatjies, maar dit bly dikwels leë woorde en niks meer nie. Soveel beloftes en al wat daarvan kom, is dadels. Politici, veral wanneer verkiesingstyd nader, daag skielik in gemeenskappe op net om nooit weer daarna gesien te word nie.

Daar word met oënskynlike belangstelling beloftes gemaak, maar maande en jare later is dit steeds die status quo wat gehandhaaf word.

Respek vir mense en kiesers ontbreek heeltemal in hierdie land. Dit is posisie-politiek en die bakleiery, om jou posisie ten alle koste te beskerm, maak kiesers siek.

Ons kragvoorsiener, met alle simpatie vir die vele uitdagings wat hulle in die gesig staar, is ʼn ander voorbeeld van verbreekte beloftes. Geen wonder dat een parlementariër verklaar: “Sê ons liewer dat ons vir die volgende drie jaar met kragonderbrekings en beurtkrag gekonfronteer gaan word, as wat julle beloftes maak en dit nie hou nie”.

Ons is egter geneig om die vinger na ander te wys en ons moet verantwoordelike persone inderdaad verantwoordbaar hou. Dit is juis omdat ons ietwat ruggraatloos is en alles gelate aanvaar dat ons land in so ʼn toestand is. Stel jouself dit voor, miljoene slaggate in Suid-Afrika. Die wederkoms sal plaasvind, maar die gate sal bly tensy beloftes weer van integriteit getuig.

Die vraag is egter of ons eie lewens van integriteit getuig, veral wanneer dit by beloftes kom.

Dis so hartseer wanneer beloftes aan kinders keer op keer gebreek word. Ouers beloof om wedstryde, konserte en prysuitdelings van hul kinders by te woon, maar daar val altyd iets voor. Wat kan in hierdie lewe belangriker wees as dat ons ons beloftes teenoor ons kinders hou?

Ons mag redeneer dat die teksvers op God betrekking het. Dit sê dat ons ons geloftes aan God moet betaal en gestand doen. Inderdaad, daar kan geen twyfel wees nie. Kan enigeen egter gronde aanhaal waarom dit nie eweneens op ons verhouding met mekaar van toepassing sou wees nie?

Die Bybel maan ons immers dat ons ja, ja moet wees en ons nee, nee.

“Laat julle ‘ja’ eenvoudig ‘ja’ wees en julle ʼnee’, ʼnee’. Wat meer gesê word as dit, kom van die Bose.” – Matteus 5:37 (AFR83)

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.