ToekomsVenster: Berge, teken van God se insluitende genade

(Foto: Jerry Zhang/Unsplash.)

Soos die berge Jerusalem aan alle kante beskerm, so beskerm die Here sy volk, nou en vir altyd. – Ps. 125:2

Ek wonder in watter mate hierdie kort reeksie oor simbole van genade jou al sentiseer het vir die dinge wat deel van jou leefwêreld vorm en hoe dit aan die genade van God verwys.

Ek het gister verwys na die pragtige waterfontein wat ons in die tuin het.

Ons woon ook in ʼn omgewing waar ons deur amper berge omring word. Toegegee, dit is nie Drakensberge of Magaliesreeks nie, dalk eerder heuwels as berge maar terwille van die gesprek noem ons dit berge. Geen stootskraper kan in elk geval die heuwels bymekaar stoot nie. Dit is regtig impossant en teen die hange het mense wat dit kan bekostig, die mooiste huise staangemaak.

Berge is ʼn ander belangrike metafoor in die Bybel. Rondom Jerusalem is daar berge, teken van God se omvangryke en insluitende genade.

Die Libanon is ʼn bergreeks wat gereeld in die Bybel voorkom. Sinai is die plek van Openbaring waar God die dekaloog gegee het.

Dit is ook die plek waar Moses gevra het dat Hy God se heerlikheid wou sien. Die ervaring, selfs al was dit nie ʼn aangesig tot aangesig ontmoeting nie het gemaak dat Moses se gesig van heerlikheid geskyn het.

Dit was vir almal duidelik dat Moses in die teenwoordigheid van die Heilige was. Ten tye van die gee van die Dekaloog het die berg gerook en was daar flitse en bewing. Die volk was so vreesbevange dat hulle gevra het dat God liewer nie met hulle praat nie maar eerder deur sy kneg Moses. Dit was ook dieselfde geleentheid waar Moses van die berg af kom en tot sy ontsteltenis moet uitvind dat die volk ʼn goue kalf onder leiding van Aaron gemaak het. Die verhaal is bekend.

Die groot waarheid dat Jesus op ʼn heuwel, Golgota gekruisig is,  ʼn simbool van wat die Romeinse owerheid met opstand doen, wat die Skrifgeleerdes en Fariseers doen  met wat hulle as Godslastering beskou het, maar wat die Vader betref, die prys wat nodig was om ons van ons sonde te verlos.

Berge is in besondere sin dus simbole van God se genade.

Sy wil vir ons lewens is op ʼn berg openbaar.

Die prys wat betaal moes word omdat ons nie aan daardie standaard kon voldoen nie, is eweneens op ʼn berg betaal.

Omdat die genade van God in ons lewens effek gekry het kan ons reken op die beskerming, omgee en sekuriteit van God in ons lewens, net soos die berge rondom Jerusalem.

Jesaja 33:16 – So ‘n mens sal sy woonplek in die hoë berge hê, sy skuilplek sal ‘n rotsvesting wees. Kos sal hy kry en sy drinkwater sal nie opraak nie.

Ps. 125:1 – ’n Pelgrimslied. Dié wat op die Here vertrou, is soos Sionsberg wat nie wankel nie en altyd vas bly staan.

ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.