ToekomsVenster: Betrokkenheid, nog ʼn waarde vir ons tyd


gemeenskapsbetrokkenheid

Foto: Shmfirm.com

Julle gees en gedagtes moet nuut word. – Lees Efesiërs 4:23

Swartgalligheid is in die 6de eeu deur Gregorius die Grote by die lys van doodsondes gevoeg.  Dit word ook beskryf as lusteloosheid, verveling, swaarmoedigheid of droefgeestigheid.  Swartgalligheid (Asedie) beskryf die onvermoë om God, sy gawes en sy skepping te geniet en Hom daarvoor te loof.  Dit vloei voort uit moedeloosheid, wanhoop, verveling en uitputting wat ons beroof van die doel waarvoor God ons geskep het: om Hom te dank en te loof.  Swartgalligheid en die onvermoë om vreugde in God te vind, gaan hand aan hand.  God word nie raakgesien nie, nie gehoor nie, nie ervaar nie.  Dit impliseer die onvermoë om God se radikale en alles omvattende teenwoordigheid, liefde, barmhartigheid en genade te ervaar.  Dit maak ons onbetrokke.  Ons emosies word hierdeur afgestomp en dit word onmoontlik om te ontvang wat God vir ons wil gee: vrede, vreugde, opgewondenheid en dankbaarheid.  Swartgalligheid is geestelike selfmoord omdat dit beteken dat ons nie wil deelneem aan dit wat God se wil vir ons lewens is nie.

Wat hoor ons in inbelprogramme, briewe in koerante, gesprekke om die braaivleisvure? Swartgalligheid.  Ons moet kennis neem van hierdie doodsonde!  Nog belangriker is dat ons kennis moet neem van God wat … sy liefde in ons harte uitgestort het deur die Heilige Gees wat hy aan ons gegee het (Rom 5:5), en van Christus wat deur die geloof in julle harte woon. (Ef 5:17)

Ons moeilikheid is dikwels dat ons hierdie dinge weet en as jy dit uitwys, voel jy nog skuldiger. Ons sukkel hiermee!

Ons het nodig om doelgerig betrokke te raak.  Dit is al manier om die negatiewe afsydige gees te troef.  Ons moet aksie neem en dinge doen om ons afsydigheid te demp.  Maar dit is belangrik dat God eers ons negatiewe gedagtes nuut sal maak (Ef 4:23).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.