ToekomsVenster: Bewaar ons van ongeloof, twyfel

Vertroue

(Foto: Reint Dykema)

Die Here was baie kwaad vir Israel en het hulle veertig jaar lank in die woestyn laat rondswerf, totdat die hele geslag omgekom het wat in sy oë verkeerd gedoen het. – Numeri 32:13

Die woordjie “totdat” kom nagenoeg 163 keer voor in die Bybel. Ons oorweeg tans of dié woord en die konteks waarin dit voorkom dalk vir ons iets te sê het in hierdie ontstellende tyd wat ons tans, nie net in SuidAfrika nie maar ook in die wêreld beleef.

Covid-19 het ons wêreld onherroeplik verander. Ons sekerhede is onder ons uitgegrawe. Net vertroue in die Here en sy bedoeling met ons waarvan die  Bybel sê dat dit goeie bedoelinge is, kan ons deurdra.

Uiteraard het hierdie vers ʼn konteks wat in ag geneem moet word. Nadat die volk van die Here vir eeue in Egipte in slawerny vasgevang was roep die Here vir Moses om sy volk te begelei na ʼn nuwe en aantreklike toekoms. In die proses doen die Here asemrowende wonders en sorg Hy vir sy volk. Dan staan hulle op die walle van die Jordaan by wyse van spreke en op die punt om die beloofde land te betree. Moses stuur twaalf verspieders om strategies te oorweeg wat die aangewese roete en wyse is om die nuwe uitdaging tegemoet te gaan.

Soos verwag kom hulle met fisiese blyke van wat op die volk wag terug in die laer. Druiwe en ander vrugte is bewys dat dit ʼn goeie en aanskoulike land is. Dan kom die woordjie “maar”. Ai, daardie woord het die potensiaal om God se beloftes nek om te draai.

Tien spioene lewer ʼn negatiewe getuienis oor die land en die uitdagings wat op Israel wag. Die mensheid darem, soos een man omarm hulle die negatiewe bydrae van die ongelowige spioene en dring daarop aan om terug te keer na Egipte, terug na slawerny.

Slegte nuus, agterdog, onheil en  samesweringsteorieë is een van die groot uitdagings wat ons tans midde hierdie Covid-19-pandemie ervaar. Daar is mense wat dit hulle werk maak om ongetoetste, negatiewe rapport die wêreld in te stuur.

Die volhardende sonde van die volk Israel lei daartoe dat hulle moet terugkeer na die woestyn en ʼn verdere veertig jaar daar moet deurbring. In die proses sterf al die mense wat in opstand was teen God, Hy laat ʼn nuwe geslag opgroei en spaar Josua en Kaleb se lewens. Hier word ons gekonfronteer met die Heiligheid van God en die belangrikheid daarvan om nie in ongeloof te lewe nie.

My bedoeling is nie om jou te manipuleer nie, inteendeel. Het ons dan nie ʼn belydenis dat goeie gawes van God af kom nie en nou dat dit noodsaaklik is om kudde immuniteit te bereik is daar mense wat twyfel saai. Uiteraard respekteer ek u reg om u eie keuses te maak solank dit nie op hoorsê gebaseer is nie.

Ons ken die uitdrukking, weer ʼn keer om die berg. Ons moet erns maak met die opdragte van die Here en reken met sy absolute heiligheid.

Mag die Here ons bewaar dat ongeloof en twyfel nie God se bedoeling met ons sal verongeluk nie.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

OW ·

Uitstekend gestel ds Jannie.Mag God ons bewaar dat ongeloof en twyfel nie ons verhouding en verbond met God sal verongeluk nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.