Wees eensgesind onder mekaar. Moenie hooghartig wees nie, maar skaar julle by die nederiges. Moenie eiewys wees nie. – Romeine 12:16
Geestelik volwasse mense praat dieselfde taal. Al het ons verskillende gawes en dien ons die Here op verskillende maniere, praat ons die taal van die evangelie. Ons deel dieselfde visie. Paulus beskryf eensgesindheid in sy brief aan die Filippense só: een in liefde, een van hart, een in strewe (Fil 2:2).
In die ou dae het mense gesê: eendrag maak mag! Wel, die Christelike eensgesindheid het ’n ander uitwerking. Dit gaan nooit om mag nie. Dit lei altyd tot diens en liefde. Om by nederiges te skaar is een van die eienskappe van die Christelike gemeenskap. Dit juis diegene wat gemarginaliseer word wat die voorwerpe van ons eensgesinde liefde en diens behoort te wees. Immers, as ons die gesindheid van die God van die Ou Testament in ons harte ronddra, sal ons weet dat Hy Homself by die nederiges geskaar het (Ps 10:18; 18:27; 34:18; 82:3; 102:17; 113:7; 138:6).