ToekomsVenster: Bid vir die leiers

Argieffoto (Foto: Aaron Burden/Unsplash)

“Bevorder die belange van die stad waarheen Ek julle in ballingskap weggevoer het, bid tot My vir daardie stad, want sy belange is ook julle belange.” – Jeremia 29:7 (AFR83)

Ek het die voorreg om ʼn weeklikse besprekingsprogram op die radio waar te neem waar ons gesels oor Suid-Afrika en die komende leierskapsverkiesing van die ANC in die middel van Desember.

Sommige mense vra of dit gepas is vir Christene om in die politiek belang te stel. As ek maar net dink hoe die politiek van die dag ons menswees in Suid-Afrika raak, kan ek die vraag amper nie verstaan nie.

Ek glo ook nie dat ons kan redeneer dat wat moet wees, sal wees nie. Nee, ons is onder opdrag en die opdrag is om medewerkers te wees in die koms van God se Koninkryk in Suid-Afrika.

Dit beteken dat ons koppe uit die wolke moet kom en dat ons moet rondkyk en interpreteer wat rondom ons gebeur.

Daar is ook wat die politiek van die dag betref vier vingers wat terugwys. Ons is geneig om skuld uit te deel, en dat daar skuld is kan nie betwyfel word nie. Die mense wat verantwoordelikheid moes aanvaar het verbrou en geen ontsag getoon vir die mense wat hulle verteenwoordig nie.

Dis skreiend en ʼn skande.

Intussen staan Suid-Afrikaners aan die ontvangkant van gebrekkige dienslewering, kriminaliteit, korrupsie, werkloosheid, armoede, en nog te veel om op te noem. Feit van die saak is of die burgers van Suid-Afrika, statistieke wil dit hê die meerderheid Christene, so ʼn toestand doodgewoon gedweë gaan aanvaar, of nie?

Die leierskapskonferensie is van uiterste belang vir Suid-Afrikaners. Ons kan die gebeure nie die rug toedraai nie. Wie daar verkies word as leier van die heersende politieke party kan en sal ʼn beduidende invloed op ons kinders en kleinkinders hê.

Opportuniste lê en wag vir die geleentheid om bordjies in Suid-Afrika te verhang. Daarmee verwys ek na die hoop wat die Zondo-kommissie na staatskaping en sy verslag gebring het.

Nee wat, ons het genoeg gehad van chaos. Ons kan ʼn verskil maak.

Ons stem weliswaar eers weer in 2024, maar kan intussen meewerk aan ʼn gees van verandering.

Ons kan betekenisvolle verhoudinge met mense bou.

Ons kan vennootskappe sluit met belangrike rolspelers.

Ons kan getuig.

Ons kan bid.

Ons kan bly hoop.

Ons is nog hier.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Andries ·

By my op die plaas was ‘n evangelis wat onder die boere se werksmense gearbei het. Hy het ‘n pragtige gebed gehad wat hy gebid het as een hom moedeloos maak: Ag asseblief VADER: Bekeer hom of verwyder hom!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.