ToekomsVenster: Bid vir genesing

hande-in-gebed

Argieffoto.

Jak 5:14-16: As daar iemand van julle is wat siek is, moet hy die ouderlinge van die gemeente laat kom, en hulle moet vir hom bid en hom met olie salf onder aanroeping van die Naam van die Here. En as hulle gelowig bid, sal dit vir die sieke genesing bring: die Here sal hom gesond maak. As hy gesondig het, sal dit hom vergewe word. Bely julle sondes eerlik teenoor mekaar en bid vir mekaar, sodat julle gesond kan word. Die gebed van ‘n gelowige het ‘n kragtige uitwerking.

‘n Tyd gelede het ek en ‘n paar vriende oor gebed en genesing gesels. Ons het verskillende menings oor die saak gehad. Een persoon het die tradisionele onderskeid tussen genesing en heling gemaak. Nie almal word fisies genees nie, maar siekte kan heling bring – in verhoudings tussen mense, innerlike vrede en vrede met God. Dis waar.

Terwyl ons gesels het een van my vriende ‘n eenvoudige stelling gemaak. As my kind met kanker gediagnoseer sou word, wat is die eerste ding wat ek sou doen? Natuurlik sou ek dadelik bid vir sy of haar fisiese genesing.

Jakobus verbind gebed vir mekaar met fisiese genesing. Die begrip wat Jakobus vir siekte gebruik sluit ook siekte op ’n godsdienstige vlak in, maar dis nie hiertoe beperk nie. Die begrippe wat hy gebruik om die herstel van die gelowiges beskryf, sluit ook geestelike herstel in (red, oprig en gesond maak – drie verskillende woorde in Grieks). Uit die konteks is dit egter duidelik dat dit primêr oor fisiese heling gaan.

Hy maak egter ‘n paar belangrike punte. Eerstens is gebed nie magies nie. Dit het nie krag in sigself nie. Elia word aangehaal as iemand wat gelowige gebid het (Sien ook 1:6). Onmiddellik sê Jakobus dat hy nie ‘n buitengewone mens was nie. Hy was ‘n mens soos ons (5:17).  Dit was nie sy spesiale bediening nie. Ons is op dieselfde vlak as Elia. Genesing hang nie af van ’n spesifiek persoon of ’n spesifieke soort gebed nie. Gebed is per definisie ‘n gelowige aksie. Dit plaas ons vertroue buite onsself. Gebed het nie op sigself ‘n kragtige uitwerking nie. Gebed is afhanklikheid. Daarom skryf hy: ‘die Here sal hom gesond maak’ (oprig). Genesing is nie gebedsgenesing of geloofsgenesing nie. Dis Goddelike genesing!

Tweedens word gebed en skuldbelydenis in een asem genoem.  Die indruk wat ons kry is dat daar een of ander verband tussen die siekte en sonde is. Natuurlik is dit nie altyd die geval nie, maar hier sou dit die geval kon wees. JP Versteeg skryf dat sonde een van die redes is hoekom mense vir mekaar moet bid. Dis deel van die helingsproses, omdat sonde maklik ‘n wig tussen mense kan indryf. Sonde beïnvloed die gemeenskap van gelowiges en moet bely word. Wanneer skuld bely en deur God vergewe word, skenk God nie net innerlike genesing nie, maar bring Hy soms ook fisiese genesing tot stand.

Wanneer ons saam en vir mekaar bid, is dit nie ‘n armdraai sessie waar ons met baie woorde die Here probeer omhaal om ons sonde te vergewe en fisiese genesing te bring nie. Dis ‘n aksie van totale oorgawe aan God. Hy genees. Hy vergewe. Ons bely ons sonde. As ons nie fisies gesond word nie, is ons in die geselskap van Paulus wat lewenslank ’n doring in sy vlees gehad het (2 Kor 12:7-9). Vir Hom was God se genade genoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

Elize ·

Malherbe – ek bid uit my hart uit vandag vir jou sodat Vader jou oë sal laat oopgaan sodat jy die Waarheid sal kan sien. Hy’s ‘n ‘gentleman’ – hy sal homself nie op jou af forseer nie, hy wag dat jy die deur moet oopmaak waaraan hy klop (hy sal nie die deur afbreek nie). Gebed het krag – glo vir my; ek praat uit ondervinding!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.