ToekomsVenster: Bid vir Israel en die res van die wêreld

Sonsondergang_aanbid_stiltetyd_pixabay.jpg

(Foto: Pixabay.)

Rom. 9:1-6 – In my verbondenheid met Christus praat ek die waarheid, ek lieg nie; en my gewete, wat deur die Heilige Gees gelei word, getuig saam met my dat daar by my groot droefheid en voortdurende hartseer is oor my broers, my eie volksgenote. Ek sou self vervloek wou wees, afgesny van Christus, as dit tot hulle voordeel kon wees. Hulle is tog Israeliete; vir hulle het God as sy kinders aangeneem en in sy heerlikheid was Hy by hulle; met hulle het Hy die verbonde gesluit en aan hulle die wet van Moses gegee, asook die tempeldiens en die beloftes; hulle stam van die aartsvaders af, en uit hulle is die Christus as mens gebore – Hy wat God is, verhewe bo alles en lofwaardig vir ewig! Amen. Dit wil nie sê dat die woord van God nie meer geld nie. Immers, nie almal wat van Israel afstam, is werklik Israel nie …

As kinders van die Here het ons ʼn besondere affiniteit met Israel. Duisende mense onderneem pelgrimstogte daarheen ten einde verskeie bakens wat vir hul besondere betekenis het te besoek. Daaronder tel die oop graf, die tuin van Getsemane, Golgotha, die see van Tiberias, die Dooie see selfs.

Die Via Dolorosa tel onder die bakens wat in so ʼn toer plan ingesluit word. Somtyds word hierdie toere uitgebrei om ook by plekke in Egipte, Jordanië en Turkye aan te doen. Dit is ʼn geestelik verreikende ervaring en ʼn mens kom met nuwe perspektief daarvan af terug. Die ervaring dat jy loop waar Jesus en sy dissipels destyds geloop het maak iets in jou wakker.

Uiteraard beteken ʼn besoek nie veel as dit nie onderlê word met ʼn Bybelse verantwoorde geloof nie.

O ja, baie mense laat hulle doop in die Jordaan waar Johannes sy betekenisvolle werk gedoen het.

Tog weet ons ook dat die einste volk Israel Jesus aan die Romeinse owerheid uitgelewer het om gekruisig te word. Johannes leer ons dat Hy na sy eiendom gekom het maar dat hulle Hom nie ontvang het nie. Sy eie mense het Hom nie geglo nie en die kerk en geestelikes van die dag was so verblind deur hul eie vooroordeel en eie belang dat hulle vir ander ʼn struikelblok was. Tog was daar mense wat tot geloof gekom het en die nuwe Testamentiese gemeente konstateer het.

In Jerusalem en ook in Antiochië was daar gemeenskappe van gelowiges wat te midde van intimidasie en latere geweld getrou gebly het aan die Waarheid wat hulle vrygemaak het.

Paulus se hartseer is groot vanweë die ongeloof en hardheid van hart van sy volksgenote. Hy gaan so ver as om homself prys te gee as dit net sou inhou dat die geestelike blindheid van sy mense opgehef word.

Die teks vermeld hoe bevoorreg die volk was. God het hulle uit al die volkere van die wêreld gekies om sy bedoeling met hierdie wêreld te verwerklik. Hulle gee uiteindelik geboorte aan die Messias, die Een wat hulle nie wou erken nie. God is egter nie met sy volk klaar nie.

Dieselfde uitnodiging wat na die res van die wêreld gaan het hulle ook as adres. Sommige verstaan dit so dat daar ʼn groot toekeer van Israel na die Here sal wees voordat Jesus weer kom. Daar bestaan allerlei interessante teorieë van wat alles nog moet gebeur.

Dit lê op die weg van gelowiges om vir Israel se bekering, soos vir andere volkere van die wêreld, sonder ophou te bid.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Stefan ·

Moet ons bid om Hom daaraan te herrinner dat ons nog steeds op aarde is en suffer?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.