ToekomsVenster: Bid vir mekaar


hand-in-son-galleryhip-com

Argieffoto.

Jak 5:13,16: As daar iemand onder julle is wat swaar kry, moet hy bid. Bely julle sondes eerlik teenoor mekaar en bid vir mekaar, sodat julle gesond kan word.’

In een van Barry Manilow se bekende liedjies van ’n paar dekades gelede sing hy oor die invloed van iemand in sy lewe. Hoewel dit ’n liefdeslied is kan ons dit net sowel op die geloofsgemeenskap toepas. Ek haal sommige van die woorde uit die lied aan: ‘You see I feel sad when you’re sad, I feel glad when you’re glad.’ Dis hoe die liggaam van Christus funksioneer. Ons voel saam met hulle wat bly is en swaar kry. Ons is ‘n medelydende gemeenskap. Een van die belangrikste maniere om medelye te betoon is deur mekaar te bedien met gebed.

Die geloofsgemeenskap is ’n gebedsgemeenskap. Gebed is natuurlik een van die mees pastorale dinge wat ons vir mekaar kan doen. Nog ’n paar woorde uit Barry Manilow se liedjie lui: ‘If you only knew what I’m going through…’ Gebed is om te sê: ek verstaan. Ek sit langs jou as jy onder in die put van wanhoop is. Ek staan by jou as jy deur ’n egskeiding gaan. Ek kniel saam met jou as jy siek is en daar nie menslike hoop is dat jy gaan herstel nie.

Gebed is egter meer as dit. Dit is om te sê dat ons aan die einde van alle menslike pogings gekom het. Ons erken dat slegs God situasies kan verander. Gebed is geensins om God se arm te draai nie. Dit is afhanklikheid van God. Dis hoekom Jakobus sê: Bid vir mekaar en God sal… Hy maak heel wanneer ons stukkend is. Hy vergewe wanneer ons geval het. Hy maak gesond wanneer ons siek is.

As ons vir mekaar bid sal mense van God sê wat Barry Manilow sing: ‘You came along just like a song and brightened my day. And now you know I can’t smile without you…’

Laat ons vandag sonskyn in mekaar se lewe bring deur vir mekaar te bid.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Leon ·

Dankie Maroela vir Gods woord elke aand. Hou aan asb met die mooi Godsdiens program. GELOOF HOOP LIEFDE

Roela ·

Maroela ek wil ook vandag dankie se vir julle.
Dankie Jesus dat U al ons sondes vergewe en steeds het U ons lief help my om eerstens myself te vergewe en dan ander te vergewe sodat ek weer heel kan word.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.