ToekomsVenster: Bly altyd geesdriftig, dien die Here

glas-houer-lig-liggies

(Foto: Milan Popovic/Unsplash)

Moenie in julle toewyding verslap nie, bly altyd geesdriftig, dien die Here. – Rom. 12:11

Entoesiasme is ʼn mooi gawe en eienskap. Dit beteken inderdaad om in God te wees. Wie in Christus is, het rede om opgewonde, geesdriftig, entoesiasties en energiek te wees.

Persoonlikheidstipes verskil van mekaar en sommige mense het meer energie tot hul beskikking as ander. Dit is ʼn gegewe.

Om egter opgewonde te wees oor die versoening wat Jesus namens ons bewerk het, die vryspraak wat ons ontvang het, die gawe van die Gees en die ewige lewe, is nie te veel gevra nie. Opgewonde genoeg om dit met iemand anders te deel.

Daar is ʼn verskeidenheid van maniere waarop ons vandag die Goeie Nuus van God se verlossing met ander kan deel. Weereens verskil gawes maar die plig is ons almal opgelê.

Don Francisco sing: “I’ve got to tell somebody!”

Dit is nie die woorde wat ons spreek wat die hardste praat nie maar ons optrede en ingesteldheid jeens ander mense en situasies.

Om altyd swartgallig en sinies, ook veroordelend te wees, is nie ʼn gestalte van entoesiasme nie. Om toemond en met gevoude arms in die erediens te staan wanneer gesing word, is eweneens nie baie aantreklik nie. Om gedurig foutvinderig en kritiseerend te wees, is nie iets wat ander sal wil navolg nie.

Hoe aantreklik sou jy reken is jou lewe en getuienis? Sou jy Jesus gevolg het as jy jou eie naaste was? Sou jy jou voorbeeld gevolg het? Sou jy reken dat Christenskap die moeite werd is en oplossings bied vir jou kwelvrae?

Die antwoord mag ietwat moeilik wees om te verteer maar dit is dalk nie ʼn sinlose oefening nie.

Probeer jou voorstel hoe dit moes wees in Jesus se teenwoordigheid.

Gedurig in die pasoppens omdat jy nie weet of hy dalk met die verkeerde voer uit die bed uit opgestaan het nie? Te bang om iets te sê omdat jy nie weereens tereg gewys wil word nie?

Ek kan myself dit nie indink nie, nie by Jesus nie. Hy het die woorde wat lewe gee.

Waarom sou massas mense agter Hom aanloop? Waarskynlik omdat Hy geesdriftig was oor sy Vader se plan met hierdie gebroke bestaan.

Glimlag, al moet jy dit oefen. Wees en bly geesdriftig.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.