ToekomsVenster: Blydskap en lof


lofprysing

Foto: Ignatsevichserg/Pixabay.com

Laat hulle sy Naam prys met koordanse, laat hulle speel tot sy eer op tamboeryn en lier. – Psalm 149:3

Dis darem interessant hoe die wêreld verander het. Die Ou Testament krioel letterlik van die lof en aanbidding van die Here, die enorme voorbereidings wat getref is sodat dit alles met die grootste mate van vernuftigheid en gepoleerdheid aangebied kon word, en die verskeidenheid van oproepe en uitdrukking van sy lof.

Ons, veral in die meer gevestigde kerke, sukkel dikwels om daarby aansluiting te vind. Dinge het baie verander, dit is waar. As ek dink waar ons as gemeente vandaan kom en hoe ʼn amper onvergeeflike sonde dit was om ʼn kitaar in die erediens te gebruik, tot waar ons vandag, ten minste in ons gemeente, die Here met oorgawe kan aanbid met watter instrument of musiekgenre ons ook al onderskei, het ons ʼn ver pad geloop.

Tog is daar steeds geloofsgemeenskappe wat stry oor die gebruik van instrumente in die erediens. Vir obskure redes word dit tot informele ruimtes beperk. Daar is dit geheilig en regverdigbaar. Die heilige ruimte van die erediens egter, veral met sy liturgiese ruimte wat deur niemand anders as die geordende ampte betrek mag word nie, maak enige ander uitdrukking van aanbiddingsvreugde ikabod.

Ai, die teenstrydigheid van die kerk darem. Ek dink die wêreld skud net kop in ongeloof oor ons inkonsekwentheid. Ons skree ons flou by rugbywedstryde en het geen of min inhibisie wanneer dit kom by die wen of verloor van ons span nie.

Sonder dat ek probeer aandui dat die aard van die vreugde dieselfde is en derhalwe dieselfde vorm van uitdrukking regverdig, bly vreugde darem vreugde. As die Bybel praat van jubel en juig, van blydskap en lof, van vreugde en opgewondenheid in die Here is daar geen rede dat dit eers deur kerkverband, ordeboeke en reglemente, sinode en kerkraadsbesluite voor afkeure van mense, kultuur, taal en ander eiesoortigheid gemoniteer en bevatlik gemaak moet word vir die gehoor nie. Dit gaan immers oor God en sy lof, nie waar nie?

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.