ToekomsVenster: Bron van hoop, vreugde en vrede

(Foto: Jan Tinneberg/Unsplash.)

Mag God, die bron van hoop, julle deur julle geloof met alle vreugde en vrede vervul. – Romeine 15:13

Daar is min dinge in die lewe so aansteeklik soos ʼn vreugdevolle mens.

Daar is meer as genoeg rede om somber, depressief en uitgewas te leef. Suid-Afrika is nie ʼn plek vir sussies nie, maar ek reken dit is wêreldwyd so.

Die wêreld het ʼn onstuimige plek geword en daar is allerlei magte en kragte aan die werk wat ʼn mens se vreugde wil steel.

Die vraag is of ons dit gaan toelaat? Lê ons sekuriteit in eksterne dinge, die waarde van ons beleggings, ons portefeuljes, ons posisie en status?

Covid-19 het een ding duidelik gemaak: Ons staan weerloos teenoor baie van die dinge wat gebeur. As my sekerheid in iets of Iemand anders lê, gaan ek bedroë daarvan afkom.

Ek het ʼn vriend met die naam van Willa Schoeman. Ek het hom nog nooit ʼn negatiewe woord hoor sê nie. As ek hom pols om te hoor hoe dit gaan verklaar hy: “Die lewe is ʼn lied”.

God is van daardie lofsang die inhoud. Die liefde wat Hy in sy Seun aan ons openbaar het. Hy is die Oorwinnaar in die stryd en ons deel daarin.

Daar is mense vir wie jy vra hoe dit gaan en hulle vertel jou! Vir hulle gaan die son nooit op nie. Ai, dis troosteloos en moeilik, amper soos die liedjie wat sing, “dis so swaar om jou laste te dra”.

Ons leer die lied vir ons kinders, maar dit is nie Evangelie nie. Jesus dra en het namens ons gedra. “Kom na my” toe klink die bekende teks, nie waar nie?

Sy las en lig en Sy juk is sag. (Matt. 11:29) As dit aanmekaar te swaar is om te dra is daar fout. Iemand anders het dit op jou gelaai, nie die Heilige Gees nie. Jy is nie soos Atlas geroep om die wêreld op jou skouers te dra nie. Jesus, ons Atlas, het die laste van hierdie wêreld reeds volkome gedra.

“Julle kon julle mandjies neersit”, sê die Psalmdigter, derhalwe is ʼn lewe van lof en aanbidding gepas. (Ps. 81:7)

Kom aan, staan voor die spieël en oefen daai glimlag.

Jesus het klaar betaal. Jy kan niks byvoeg nie, derhalwe wil Hy jou met vreugde vervul.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.