ToekomsVenster: Christene doen dinge anders

(Argieffoto: Pixabay)

Broers, as iemand ewenwel deur een of ander misdaad oorval word, moet julle wat geestelik is, so een reghelp met die gees van sagmoedigheid, terwyl jy op jouself let, dat jy ook nie versoek word nie. – Gal. 6:1

Christene doen dinge anders. Christene reageer anders. Die wêreld daarbuite is egter somtyds meer genadig as wat Christene met mekaar is. Dit is ’n hartseer werklikheid maar, dit is ongelukkig waar.

Daar is baie stories van mense wat deur die “kerk” seergemaak is, somtyds sodanig dat hulle die geloof afsterf. Uiteraard is daar twee kante aan elke saak.

Dit is ook so dat ’n mens meermale net die een kant van die saak hoor, dat ’n mens sou verwag dat die lydende party ’n bietjie meer onderskeiding aan die dag lê en daarmee reken dat Christene, die kerk se mense, self stukkend en onvolledig is. Die Bybel leer immers, almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God. (Rom.3:23)

Paulus worstel met die stryd tussen die gees en die vlees, dit wat hy wil en dit wat hy doen dit. (Rom.7:19)

Niemand van ons het geestelike gesproke arriveer nie en dit gebeur ook nie in hierdie lewe nie. Ons weet hoe broos ons is en hoe maklik ons verlei word om ons ore uit te leen aan die leuens wat die bose rondvertel.

Tog rus daar ’n verantwoordelikheid op kinders van die Here en Paulus maak dit baie duidelik in hierdie gedeelte.

Om iemand reg te help is nie altyd maklik nie. Somtyds wil die ander persoon nie jou hulp aanvaar nie en jy kan niemand dwing om jou opregte intensies te aanvaar nie. Dalk het dit tog met die gesindheid te doen waarmee die hulp aangebied word. Mens weerstaan opregte liefde, belangstelling, sagtheid en deernis moeilik op die langtermyn. Iewers krummel jou brose gemoed en word jy bereid om hulp te aanvaar.

Kom ons wees daar vir mekaar, nie foutsoekerig of met kritiek nie, maar opreg en liefdevol. Môre is jy die een wat hulp nodig het.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.