ToekomsVenster: Daar is altyd hoop want God is in beheer


blydskap

Argieffoto.

Help tog, Here, want daar is geen vrome meer nie, daar is geen betroubare mens meer oor nie. – Psalm 12:2

Om perspektief te behou is ʼn belangrike saak, veral wanneer jou geloofsmoed en oortuiging tot die uiterste beproef word.

Ek voel soms soos ʼn pendulum, swaai van die een uiterste na die ander.  Ekwilibrium in geloof, balans en ʼn gesonde ewewigte beoordeling van dinge is baie belangrik as jy behoue wil bly.

Hierdie uiterste swaai van die pendulum veroorsaak dat alles óf reg óf verkeerd is.  Daar is nie ʼn middelgrond nie. Die feit van die saak is dat geen saak ooit nét sleg of goed is nie.  Geloofsbeoordeling sien beide aspekte raak in enige situasie.

Die Psalmdigter fouteer na die uiterste negatiwiteit.  Omdat sy wêreld onderstebo is, is alles onderstebo.  “Daar is geen vrome meer oor nie, nie ʼn enkele betroubare nie”.

Net Sodom kon geen regverdige oplewer nie.  God sou Sodom seker gespaar het as daar selfs net een regverdige oorgebly het, maar Abraham se ywer en vrymoedigheid het hom by vyf oënskynlik in die steek gelaat.

Op grond van God se wonderlike betrokkenheid by hierdie wêreld, Sy heerskappy en beheer, Sy goeie bedoelinge en liefde, is daar altyd iets positiefs in elke konteks.

Veral in Suid-Afrika met sy hoë insidensie van korrupsie, bedrog, misdaad en ander vorme van kriminaliteit en gebrokenheid kan ʼn mens maklik verlei word om die ganse samelewing onder een gemeenskaplike noemer af te skryf.

Goddank, dis nie waar nie.  Soos in Elia se dag is daar altyd ʼn Obadja iewers. (1 Konings 18).  Selfs al kruip die profete weg en Elia voel homself totaal vereensaam en alleen moet hy hoor van 7000 wat die knie nie voor Baäl gebuig het nie.

Daar is hoop omdat God in beheer is, omdat Hy met hierdie wêreld, al lyk dit al ook hoe bedroë, op pad is van die begin na Sy bestemde einde.

Daar is altyd hoop.  Daar is genoeg om voor te leef.  Moenie so gou opgee en alles en almal afskryf nie.

  • Besoek die ToekomsVenster-inisiatief se webwerf vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.