ToekomsVenster: Daar is die Lam van God

doring-kroon-kruis-teks-bybel

(Foto: Pixabay)

Ons leef in lydingstyd en gedenk die swaar pad van opofferinge wat Jesus van Nasaret, ons Verlosser, op aarde gestap het terwille van ons redding.

Die verhaal van daardie laaste week van Jesus se optrede in die stad Jerusalem gryp ʼn mens aan die hart.

Die venyn waarmee die geleerdes van die dag Hom behandel het moes tog ʼn appèl gemaak het op Hom.

As Jesus ontsteld was toe Hy die tempel gereinig het van die skaamtelose handelaars wat daarvan ʼn rowerspelonk gemaak het, as Hy enkele dae van te vore by die graf van Lasarus gehuil het, as Hy hartseer was oor die verhardheid van Jerusalem en sy inwoners, dan moes Hy ook elke ander emosie beleef het.

Verwerping, venyn, opsetlike misverstand, en valse inligting , ja, veral die werklikheid dat dieselfde mense wat enkele dae van tevore hul klere op die pad oopgesprei het, met palmtakke die Messias as koning besing het, binnekort “kruisig, kruisig Hom” sou dreunsang.

Die doringkroon, meer as die fisiese foltering daaraan verbonde maar ook die miskenning van sy Koningskap en aanspraak op die harte en lewens van mense. Die onregmatige verhoor, die valse aanklagte, die spot en hoon, en om daardie kruis teen Golgota se heuwel uit te dra.

Die Via Dolorosa, weg van smart en pyn.

Niks, maar niks is Jesus gespaar nie. Dit was nie ʼn soort “pseudo” lyding nie, dit was egte trane en bloedsweet wat op sy voorhoof gepêrel het.

Op die minste behoort ʼn mens empatie te hê met dié eensame figuur.

Ongelukkig is empatie nie genoeg om die ewige lewe te ontvang nie. Die wete, belydenis, erkenning en toe-eiening van die waarheid, “dit was ook vir my” is al wat aan God se geregtigheid kan voldoen.

Die Seun het gesterf sodat jy kan lewe!

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Yvonne

Met U kosbare lewe Here het U die prys betaal vir elkeen wat glo