ToekomsVenster: Daar is geen einde aan liefde

beach-193786_1280.jpg

(Foto: AnnaER/Pixabay)

Julle moet niemand iets verskuldig wees nie, behalwe om mekaar lief te hê. Wie sy medemens liefhet, voer die hele wet van God uit. – Romeine 13:8

Ek hou nie van skuld nie. Koop kontant, betaal en stap weg is my motto.

Toegegee, ’n mens kan sommige dinge net bekom as jy bereid is om skuld aan te gaan nie. Daar is nie baie mense wat byvoorbeeld ’n huis of selfs ’n motor kontant kan koop nie.

Die probleem met skuld, krediet is dat dit normaalweg rente loop. Dit is nie lank nie en jy skuld meer as wat die aankoopprys aanvanklik was soos wat rente op die uitstaande bedrag bygevoeg word. Dit is om van te sidder.

Liefde, sê Paulus word in paaiemente betaal. Dit hou aan en aan en aan. Jy kry daarmee nooit klaar nie en ek het ’n vermoede dat dit rente loop. Ons word tog geroep om mekaar meer en meer lief te hê, lief te kry. Ons word geroep om ons liefdes sirkel bewustelik uit te brei. Ons word dit opgedra om die lief te hê wat ander afgeskryf het, om God se liefdesbrief aan ’n verlore gaande wêreld te wees. Jy betaal hierdie skuld nooit volledig af nie. Ek vermoed verder dit is die een ding waarmee ons selfs in die hiernamaals besig gaan wees. Liefde, sê Paulus hou vir altyd.

Daar is geen einde aan liefde nie. Interessant, hoe meer jy gee, hoe meer ontvang jy. Liefde kan nie weerstaan word nie. Dit verower die hardste en hardvogtige hart. Immers, dit het jou hart verower, nie waar nie?

Die Weduwee se Kruik – Lucas Maree

Ons almal is maar bang dat die liefde dalk sal opraak

Dus probeer ons dit tot sterwens toe bewaak

En dan bêre jy dit veilig in die hart se diepste kluis

En hou jou naaste op ʼn afstand met jou vuis

 

Maar dit is die goeters wat mens weggee wat jou ryk maak

En dit is daarmee wat jy mense om jou raak

Want wat beteken liefde as niemand dit gebruik nie

Of ʼn blom se geur as niemand daaraan ruik nie

 

Ek vermoed die hart werk soos die weduwee se kruik

Wat vol bly, selfs al sou sy dit gebruik

Ek vermoed die hart werk soos die weduwee se kruik

En die liefde, soos die olie in sy buik

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.