ToekomsVenster: Daar ís hoop

Foto: Diana Vargas/Unsplash.com

Ek lees vanoggend ʼn artikel wat geplaas is op ʼn baie groot Afrikaanse webwerf (Maroela Media) en wat worstel met die vraag hoe dit met ons in Suid Afrika gaan. Die skrywer, Herman Toerien, verwys sydelings na die realiteite waarmee ons daagliks gekonfronteer word wat dinge soos korrupsie, staatskaping, plaasmoorde en ander ontstellende dinge insluit. Nie minder as 84 mense reageer voordat die terugvoergeleentheid afgesluit word nie.

By verre is die meeste van die reaksie negatief, ontstellend en hartseer. Sommige verlang daarna om te immigreer terwyl ander vertel hoeveel trauma hulle tuis beleef nadat hulle tyd oorsee deurgebring het. Een respondent sê selfs dat sy Suid Afrika haat. Daar is darem een reaksie wat vra of die respondent nie buitegewoon sinies is nie.

Ek is dankbaar dat daar forums soos hierdie bestaan waar mense hul vrese en teleurstelling kan verwoord. Dit is baie nodig.

Ek sien ook twee ander artikels raak wat op Netwerk24 verskyn het. Beide is geskrywe deur jong studente waarvan Juvan Veldsman van die Noordwes-Universiteit een is.

Hy verwys na ʼn onlangse geleentheid toe hy as fasiliteerder moes optree by ʼn jeugberaad wat deur die ATKV gereël is. Die leerlinge, almal in gr. 9 en 16 jaar oud moes worstel met die eietydse problematiek van ons geknelde land.

Hy word verras deur die aansteeklike entoesiasme van hierdie jongmense oor die toekoms. Werkbare oplossings word op die tafel geplaas en die atmosfeer is swanger met hoop.

Juvan sien ʼn Suid Afrika wat twintig jaar van nou af die spreekwoordelike land van melk en heuning geword het. Hoop vir hom is ʼn gevoel van kinderlike opgewondenheid, ʼn helder atmosfeer en ʼn gevoel van ‘wow’, alles gaan oukei wees.

Henri Uys van die Universiteit van Pretoria wys daarop dat Suid Afrika ʼn wonderlike klimaat het, in ʼn groot mate natuurrampe en terreur gespaar word, ʼn kleurryke volkeverskeidenheid het en ook dat elke land tog maar sy eie probleme het. Vlug is vir hom nie die aangewese weg nie maar dat ons land, Suid Afrika, te midde van uitdagings, baie het om te bied.

Ek wonder of ons as ouer Suid Afrikaners nie ons kinders ʼn groot onreg aandoen deur somtyds so negatief en uitsigloos te wees nie? Baie beveel byvoorbeeld hul kinders aan om die land te verlaat en ʼn heenkome op ʼn ander plek te gaan vind.

Die belangrikste gawe wat ons aan mense kan gee is hoop. Ons moet dit die opgroeiende generasie nie ontneem nie. Hoop stel nie teleur nie. Geloof, hoop en liefde. Die grootste van die drie – hoop.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Fanie Kemp ·

Baie dankie vir hierdie “Hoopgewende” stuk – veral die vermaning aan ons ouer geslag.
Ons moet werklik waak daarteen om nie ons jong mense so moedeloos te kla en ons toekoms so uitsigloos te maak dat hulle liewer wil landuit.
Daar rus egter ook groot verantwoordelikheid op almal se skouers, veral die media, politieke kommentators en die kerke om die eensydige blik op en demonisering van die Afrikaner se verlede te staak.
Wees billik, eerlik, gebalanseerd en regverdig as na die verlede gekyk word. Alles was mos nie net sleg nie, inteendeel, daar was mos baie mooi, goeie en positiewe ook waarop die toekoms gebou kan word.
Help ons jongmense om weer trots te wees op wie en wat hulle is en waar hulle vandaan kom – dan sal hulle weer hier wil bly en patrioties en positief help bou aan hierdie land, hul vaderland.

Al ·

Ek stem saam. Die ouers wat hul kinders so negatief maak en hul oorsee wil stuur om daar te gaan bly, veroorsaak dat hul op hul oudag alleen agterbly.
Daar is net soveel gevare en tragedies in oorsese lande as hier in SA.

kolla ·

Ongelukkig moet dit gesê word: Afrikaners is van die mees negatiefste mense wat ek ken, veral die konserwatiewe ouergarde.

Maria ·

Fanie my hart le vir jong kinders ongelooflik baie…baie…kinders het nie meer hoop het nie self jongmense vir toekoms nie en Kolla ek stem saam met julle 2 en erken dit. HOOP sal eerder se dat almal gered nie verlore mag gaan nie tot die dag wanneer Here kom.

Elsie Riekert ·

My seun het twee jaar lank gehoop op werk waar hy sy goeie kwalifikasies kan gebruik. Duitsland het hom opgeraap. Hy is nog positief oor ons land waarna hy baie verlang maar dis die werklikheid. Ons ander waardeer SA se goeie hoedanighede en bid dat vooruitgang sal kom.

Ken Stander ·

Goeie more/middag.
Ek lees/bestudeer/herkou elke dag, d.v. die gedagtes wat geplaas word onder: ToekomsVenster.
Ek wil graag weet as dié Skrif- 1 Kor. 3:13 sê dat tussen, geloof, hoop en liefde, laasgenoemde die belangrikste /grootste is, hoekom sê u in bogenoemde dagstuk: “Groot liefde”dat hoop die belangrikste is?
Ek hoor graag van u.
Vriendelike groete
Ken Stander.
Ps. Vanaf ‘n sinnige Kanada.

Tony ·

N klient vertel my haar dogter en man is Australie toe. Na twee jaar los hy haar. Sy het geen ondersteining daar nie Alleen alleen. My dogter en haar man is in Kanada. Ja die land is pragtig en skoon en alles in plek. Sy het al 35 kg verloor agv werk werk en werk. Elke aand werk sy tot 12 uur in die aand. N niggie van my se dogter is ook in Kanda. Hulle het n klein seuntjie. Geen ondersteuning of familie wat haar kan ondersteun nie.
Wat ek probeer se is dit lyk so rooskleurig maar dit is nie so rooskleurig nie. Jy verdien dalk n beter salaris, die land is skoon met minder misdaad en probleme, maar daar is n prys wat jy gaan betaal. Ek wil aanbeveel vir mense wat wil immigreer , doen jou huiswerk behoorlik. Klein kindertjies word sonder oumas en oupas groot, jy is alleen.
DINK MOOI. Ons land het ook sy voordele

OWO ·

Ken.Ek gaan probeer om jou te antwoord.Liefde is no 1 Vrug van die Gees en in 1Kor13 bly hy die grootste Karakter eienskap van Jesus Christus.Hoop word as ‘n gawe of belofte deur Jesus Christus aan ons belowe.Rom 5:5.1Kor13:13 en Rom 5:5 moet in hierdie verband saam gelees word.Ek vertou dat dit sin maak vir jou.

ChrisE ·

Ek verval ook van tyd tot tyd in kort wanhoopsbevliegings maar dit gaan gelukkig gou oor. Ek is ook al aangevat oor my volstruis mentaliteit en naiëwiteit. Ek stem heelhartg saam. Ons sit nieteenstaande die huidige regering se beleid en droogmakery nog met die witbrood onder die arm. Wat my opvallend is, is die groep (persone) wat die meeste kla. Ek is van die “jonger generasie”. Ek kan nie bekostig om op/met pensioen te gaan nie. Ek sal moet werk tot ek die dag omval. Ek is die “verlore” generasie wat as kind onder politieke indoktrinasie en propoganda grootgeword het. Ek laat my nie vertel iewers het dit ‘n letsel gelaat nie. Ek wil my nie veronskuldig of blaam verskuif nie. Ons leef in die land nog lekker, en dit is alle bevolkingsgroepe ingesluit. Daar is vraagstukke probleme uitdagings waarvoor ons aanspreeklik is. Die huidige regime word nog aangehang, maar ons moet deur die proses gaan. Ek is self deur werkloosheid, (eie skuld) ek was al self slagoffer van verliese van diefstal en inbrake. Het self al telekemale by die graf en langs hospitaal beddens gestaan van plaasmoorde en aanvalle. Dit het myself amper my eie lewe gekies. Ek het egter ‘n keuse gemaak. Dit gaan my nie onderkry nie. Ek behoort aan ‘n lewende God wat my nooit sal versaak, verlore laat gaan of onbeskermend sal los nie. Bid tot God. Verootmoedig joueself. Glo in Hom. Vetrou op Hom. Leef vir Hom.

OWO ·

Jy is op die regte pad Chris.Hy sal jou nie teleurstel nie.Hou styf vas aan God se beloftes.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.