ToekomsVenster: Daar is ’n blye weersiens

Argieffoto. (Foto: Kevin Benkenstein/Unsplash)

Daarna het Hy hulle uit die stad uitgelei tot by Betanië. Daar het Hy sy hande opgehef en hulle geseën. Terwyl Hy hulle seën, het Hy van hulle af weggegaan en is Hy in die hemel opgeneem. Hulle het Hom aanbid en met groot blydskap na Jerusalem toe teruggegaan. Daar het hulle die hele tyd by die tempel gebly en God geprys. – Lukas 24:50-53

Die verhaal van Jesus se Hemelvaart gryp die verbeelding aan. Terwyl die dissipels stip na die hemel kyk terwyl Jesus deur ’n wolk, simbool van die Vader se teenwoordigheid, omhul word, staan twee manne in wit klere by hulle. “Waarom staar julle so na die hemel?” wil hulle weet. “Dieselfde Jesus wat julle nou so sien opvaar het, sal weer kom. Dit is die belofte waarmee die dissipels die toekoms tegemoetgaan”.

Daar is ’n weersiens vir hulle, ja, vir al God se kinders. Soos die Hemelvaart dink ons nie gereeld na oor die wederkoms van Jesus nie. Tog is ons vandag en elke dan, nader aan daardie gebeurtenis. Dan sal die heerskappy van God volmaak wees en die Koninkryk in krag en heerlikheid deurbreek.

Dit is opmerklik dat die teks ons nie vertel van ’n tranerige afskeid nie. Dit sou tog heeltemal verstaanbaar gewees het maar juis die teenoorgestelde. Jesus laat sy dissipels bemoedig en opgewonde agter. Vol vreugde terwyl hulle Hom loof en prys keer hulle terug na Jerusalem waar hulle die belofte van die Vader gaan inwag, net soos Jesus hul opdrag gegee het.

Lof en aanbidding is inderdaad gepas in die lig van wat hier afspeel. Jesus vaar op na sy Vader waar Hy in ’n posisie van heerlikheid sy plek aan die Vader se regterhand sal inneem. Vandaar regeer Hy oor die ganse werklikheid, gee Hy in besonder leiding aan sy kerk en berei Hy die plek waarheen ons eendag opgeroep sal word.

Jesus het nie opgehou met werk nie.

Sy werk is nou anders maar dit is steeds ten behoewe van ons. Intussen bemagtig die Heilige Gees ons sodat ons effektief en strategies mag meewerk aan die koms van sy Koninkryk.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.