ToekomsVenster: Daar is soveel meer

sonsopkoms_wolke_stiltetyd_pixabay.jpg

(Foto: Pixabay)

Maar soos daar geskrywe staan: “Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor het nie,” en wat in die hart van ‘n mens nie opgekom het nie, dit het God gereed gemaak vir dié wat Hom liefhet. – 1 Kor. 2:9-10

“As ek dood is, is ek dood”. Ai, hoe hartseer en wreed. Dit getuig nie met die stem hier binne in jou wat sê daar is “meer” nie. Dit is nie die stem van wensdenkery en angstigheid en goedgelowigheid nie maar die stem van die Heilige Gees wat jou wil oortuig van die heerlike erfenis wat God vir ons in gereedheid bring.

Ongeag of sommige mense glo dat die dood soos ons dit ken die einde is sal die verrassing groot wees as hulle in die hiernamaals hul oë by wyse van spreke oopmaak, en oopmaak sal hulle.

Wat sou agter so ʼn fatalistiese redenasie lê?

Dit kan tog nie geloof wees nie want geloof styg dan juis bo enige aardse realiteite en beperkinge uit en hef die finaliteit van die dood op.

Dit kan nie Godsvertroue wees nie want vertroue in Hom reken dan juis met die waarheid dat ons op aarde geroep word om met Koninkrykswerk besig te wees net om later die kroon van die lewe te ontvangs.

Dit kan seker teleurstelling wees, teleurstelling selfs in God. Iemand mag dalk sê: “Toe na Hom geroep is in ʼn uur van nood was daar net ʼn lugleegte. Dit het kompleet gevoel of God nie hoor nie, en as Hy hoor, nie omgee nie”.

Dit is uiteraard nie waar nie want die Here self het belowe: “Ek sal jou nie begewe en nie verlaat nie”.  Hy is Immanuel, God met ons. Hy was van God verlate sodat ons nooit van God verlate sal wees nie.

Dit kan rebellie wees, die gedagte dat mense onderhewig is aan ʼn groter gesag en uiteindelik rekenskap sal moet gee van sy of haar optrede, resoneer nie so maklik met die betrokke persoon wees. Rekenskap is egter net ʼn bedreiging as jy met die verkeerde dinge besig was of nie met die regte dinge jou besig gehou het nie

Dit kan baie dinge wees maar niemand besluit sommer op ʼn dag dat alles net hier eindig nie. Dit sou baie goed wees as jy met iemand gesels oor jou teleurstelling, rebellie en ongeloof.

As jy sterf en daar is inderdaad geen lewe na die dood nie maar jy het geglo en reg gelewe verloor jy niks nie. Hoe kan jy iets mis as daar nie ʼn bewussyn is nie? As egter jy nie glo nie en daar is ʼn ewigheid ter sprake, het jy probleme. Die redenasie bevredig my egter nie, alhoewel dit seker sin maak.

Om vir God te lewe vervul en gee betekenis. Dit laat my met ʼn gevoel van veiligheid en geborgenheid. Dit gee vrede en vervulling. Dit laat my lewe en strewe. Dit anker my bestaan.

Hierdie lewe, weliswaar uitdagend by tye, is reeds besonders geseënd en sinvol.

Wat ek hier en nou beleef bevestig inderdaad die “meer” wat vir elke mense weggebêre is.

Ek vertrou jy glo en lewe.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Yvonne ·

Dankie Here …my vertroue is op die Baie Meer gevestig…..U is nie n mens dat U sal lieg daaroor nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.