ToekomsVenster: Daardie halwe sny brood

(Foto: Charles Chen/Unsplash)

“‘Gee julle vir hulle iets om te eet,’ sê Hy toe vir hulle.” – Lukas 9:13 (AFR83)

Dit is so ontstellend om te hoor dat mense in Suid-Afrika honger gaan slaap. Veral wanneer kinders betrokke is, breek ʼn mens se hart.

Daar is verskillende berigte wat oor hierdie tema geskryf word. Dit blyk dat een uit tien kinders honger gaan slaap.

Nie net kinders nie, maar ook bejaardes sukkel om te oorleef.

Uiteraard is daar baie bydraende faktore. Dat ons in ʼn konteks woon waar die politieke wil ontbreek, is inderdaad só. Werkloosheid en armoede eis sy tol. Ja, die wêreld sukkel met dieselfde uitdagings.

ʼn Mens voel so onmagtig om iets aan die toedrag van sake te doen.

Dan verskyn ʼn berig soos die verslag van die Verenigde Nasies. Soveel as een miljard etes per dag word vermors en weggegooi. Terwyl 800 miljoen mense wêreldwyd honger ly, word duisend miljard doller se voedsel jaarliks weggegooi. ʼn Vyfde van alle vars produkte word op stortingsterrein gestort.

ʼn Mens redeneer so dikwels dat jy as individu en mens nie veel kan doen nie. Geld is skaars en dit geld seker in die meeste huishoudings in Suid-Afrika.

Ons staan egter skuldig, (ek veralgemeen), dat ons ook kos wat deur iemand geniet kon word, weggooi.

Dalk is die moeite om dit na iemand te neem net te groot?

Dalk dink ons behoeftiges sal aanstoot neem?

Dis egter nie so as ek na die baie mense kyk wat asdromme deursoek vir ʼn toebroodjie wat nie klaar geëet is nie of ʼn stukkie hoender wat oorgebly het as deel van die wegneemetes by ʼn kitskosrestaurant.

Ek wil nie prekerig raak nie, maar ek kan help om te vra of ons meer kan doen?

Kom ons bedink kreatiewe maniere waarop ons voedsel wat nog bruikbaar is, vries en later in ʼn ete verpak, al is dit net een porsie op ʼn slag.

Dit verg net ʼn bietjie opoffering en moeite.

Net ʼn bietjie bewustheid en ʼn groot dosis dankbaarheid daarmee saam dat God ons daagliks so getrou onderhou.

Miskien kan jy in jou vriendekring of Bybelstudiegroep besin oor hoe julle ʼn bydrae kan lewer om honger in ons sonskynland te help aanspreek.

  • Wil jy meer weet oor die ToekomsVenster-projek? Stuur ʼn e-pos aan ds. Jannie Pelser by [email protected] vir nog inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Ek kan ·

Ons gooi GEEN kos weg nie, behalwe as dit sleg geword het. Enigiets soos vrugte of groente, of oorskiet wat na ‘n ete nog in die potte is, sit ek op die sypaadjie neer – dit verdwyn baie vinnig. Oorskiet van ons borde – dit word hondekos.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.