ToekomsVenster: Daarom is ek bly

(Foto: Catalin Pop/Unsplash)

Daarom is ek bly en juig ek en voel ek my veilig. – Psalms 16:9

Hierdie is een van my gunsteling Psalms. Dit is kort en kragtig en heerlik om te lees. Die teks begin met ʼn “daarom” en dit maak ʼn mens tereg nuuskierig na wat die teks voorafgaan. Kom ons lees dit saam met mekaar:

Ek sal die Here loof wat my tot die regte insig gebring het; selfs in die nag bly ek bewus van wat Hy my leer. Ek het die Here altyd by my: omdat Hy by my is, sal ek nie struikel nie. – Psalms 16:7-8

Die digter, ʼn gelowige, is opgewonde, dankbaar en vervul met blydskap omdat God hom in die waarheid lei en onderrig. Die Gees, so leer ons uit die nuwe Testament, werk in hom en herinner hom aan die mooi geloofswaarhede wat in die Woord verpak is.

Nuwe Testamentiese is Jesus, die Messias Koning, die hoogtepunt en die inhoud van daardie Boodskap.

Jesus ons Here, ons hoop en verwagting.

So intens beleef die digter God se nabyheid dat hy selfs in die nag sensitief is vir God se stem. Nag kan uiteraard ook simbolies opgeneem word wat sou beteken dat wanneer omstandighede uitdagend raak die digter steeds bewus is daarvan dat God sy lewe navigeer.

Die woorde “Ek het die Here altyd by my” herinner ons aan die woord “Immanuel”.

  • God is agter ons: “Wanneer jy die regte koers verlaat, sal jy agter jou ʼn stem hoor sê: “Hier is die pad, loop hierlangs.” – Jesaja 30:21
  • God is voor ons: “Ken Hom in al jou weë, dan sal Hy jou paaie gelykmaak.” – Spreuke 3:6
  • God is langs ons: “God beskut jou onder sy vleuels en is vir jou ʼn veilige skuilplek. Sy trou beskerm jou aan alle kante… Al val daar duisende langs jou, tienduisende by jou, vir jou sal niks tref nie.” – Psalm 91:4,7
  • God is bo ons: “Die Here kyk uit die hemel, Hy sien al die mense, Hy kyk uit sy woonplek wat almal doen, almal wat op die aarde woon. Dit is Hy wat hulle verstand gemaak het en Hy weet alles wat hulle doen.” – Psalm 33:13-15
  • God is onder ons: “. . . dié wat op die Here vertrou, kry nuwe krag. Hulle vlieg met arendsvlerke, hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle loop en raak nie afgemat nie.” – Jesaja 40:31

Die seënbede uit die tyd van die vroeë kerk vat dit alles so saam:

Die Here is voor jou om die pad gelyk te maak.

Die Here is langs jou om jou hand vas te hou.

Die Here is agter jou om die Bose te verslaan.

Die hand van die Here is onder jou om jou te dra as jy swak is en jou op te help as jy val.

Die Here is rondom jou om jou te beskerm.

Die Here is bokant jou om jou te seën.

Die Here is binne-in jou, want Hy lei jou deur sy Heilige Gees.

Die Here is vir jou, want Jesus pleit vir jou.

Die Drie-enige God is by jou, van nou af tot in ewigheid.

Is dit nie rede tot oorvloedige blydskap nie?

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.