Titus 3:3-5 – Vroeër was ons ook onverstandig, ongehoorsaam, op die verkeerde pad, verslaaf aan allerlei begeertes en singenot; ons het ons lewe in kwaadwilligheid en jaloesie deurgebring; ons was haatlik en het mekaar gehaat. Maar toe het die goedheid van God ons Verlosser en sy liefde vir die mens verskyn. Hy het ons verlos, nie op grond van iets wat ons vir ons vryspraak gedoen het nie, maar op grond van sy eie ontferming. Dit het Hy gedoen deur die wedergeboorte wat die sonde afwas, en deur die Heilige Gees wat nuwe lewe gee.
Ons mag nooit vergeet waar die Here ons kom haal het nie.
Ons verskil van mekaar en terwyl sommige beskermend en met die nodige gesonde struktuur grootgeword het, het ander die leiding van ouers en rolmodelle in hul lewens ontbeer. Niemand kan in elk geval vooraf en vooruit bepaal hoedat ʼn mens sal uitdraai nie.
Sommige mense rebelleer ten spyte van ʼn goeie en voorbeeldige opvoeding en raak die spoor byster soos die verlore seun in die Bybel. Ander verras deur ʼn standvastige ingesteldheid ten spyte van ver van ideale omstandighede tuis.
Wanneer die skrywer dan verwys na die verskillende kategorieë van afdwaal en wegdwaal mag dit in minder of meerdere mate van jou waar wees. As jy ʼn lewe van onverskilligheid gespaar is moet jy dankbaar en bly wees. Sonde bring dikwels ʼn groot klomp hartseer teweeg. Volhardend sondig en onverskillig leef is ʼn duur oefening en nie een aan te beveel nie. Tog kan elkeen van ons met die skrywer se sondelysie identifiseer. In minder of meerdere mate is ons daaraan skuldig.
Sonde is egter veel meer ʼn saak van die hart. Die manifestasie van ʼn koue en onwillige hart kom in die optrede na vore. Dit is die Heilige Gees se voorreg en verantwoordelikheid om van sonde, oordeel en geregtigheid te oortuig. (Joh.16:8) Dit kan ʼn mens nie vir en namens iemand anders doen nie. Die Here werk op sy eie unieke manier in elke mens se lewe.
Ons leef in ʼn prestasie gedrewe samelewing. Ons is sinies en wantrouerig teenoor enige iets wat as verniet, gratis aangebied word. Iewers moet daar ʼn vangplek wees, redeneer ons by onsself. Niks vir niks, dit is hoe dit werk.
Die ewige lewe is so duursaam dat geen mens daaraan deel sou kon kry tensy dit heeltemal verniet aangebied word nie. Geen mens kan daarvoor betaal nie, dit is onbekostigbaar. Die beste wat ʼn mens kan aanbied sê die Bybel is soos ʼn wegwerplike kleed. (1Petr.1:18)
Daarom word dit genade genoem.
Die lied getuig daarvan, genade onbeskryflik groot. Dink ʼn bietjie na oor die woord, onbeskryflik. Dit is nie net ʼn metafoor nie, dit is presies wat dit is. Die guns, liefde en genade wat God in Christus Jesus aan ons bewys het aan Golgotha`s heuwel, is onbeskryflik en onvergelykbaar.
Het jy al daardie vrye genade van God omarm? Die teologie agter God se genade handeling in jou en my lewe is misterieus onverklaarbaar. Waarom ek en waarom jy? Onverstaanbaar, juis daarom moet dit met albei hande aangegryp word. Doen dit sommer vandag as dit nog nie vir jou ʼn werklikheid geword het nie.
- ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za