ToekomsVenster: Dank die Here vir sy beloftes

Foto: Patrick Perkins/Unsplash.com

Of ek reis en of ek oorbly, U bepaal dit, U is met al my paaie goed bekend. – Ps. 139:3

Ons is ongemaklik met twyfel en is bang dat God ons sal teregwys, ja, selfs sal wegstoot.

Ek sou my aardse pa nooit maar nooit teëspreek of bevraagteken nie. Nie alleen die respek wat ek vir hom gehad het nie, maar ook die gesag wat hy uitgeoefen het, het dit nie toegelaat nie. Dit beteken nie dat ek nie vir hom lief was of dat ek soveel jare nadat hy hemel toe is steeds na hom verlang nie.

Dit is die manier waarop ons generasie grootgeword het. As jy ʼn mening het, hou dit vir jouself. Niemand stel daarin belang nie.

God is soveel anders en ek is so dankbaar daarvoor. Hy het my al in my donkerste oomblik van vertwyfeling en selfs opstand verdra en nie weggestoot of veroordeel nie. Terwyl my vuishoue op Hom val het Hy geduldig toegekyk en my eerder aangemoedig om die goed uit my gestel te kry.

Twyfel is nie lekker nie maar by die meeste van ons ʼn gegewe.

Onthou gister se belangrike vertrekpunt: as jy twyfel is jy darem in goeie geselskap, die Bybel is die getuienis van mense wat probeer sin maak het van hul geloof te midde van somtyds ondraaglike realiteite.

Die tweede beginsel wat ek vandag deel is: moenie jou geloof, vertroue en vastigheid bou op jou omstandighede nie.

Ons maak mos so, ons interpreteer ons omstandighede en maak dan sekere afleidings. As dit goed gaan is ons tevrede en dankbaar. As dit minder goed gaan begin ons twyfel en God bevraagteken.

Interessant dat ons nie ongemak met God beleef as dit goed gaan nie. Ons vergeet ook dikwels om dan dankie te sê en aanvaar die lewe en God se guns as vanselfsprekend. Die dag egter as die wiele afkom is ons summier kwaad, onvergenoegd en wantrouig.

Ai, die mens tog, so onvoorspelbaar soos die wind. So inkonsekwent as wat jy kan kry.

Omstandighede is net wat dit is, omstandighede. Dit kom en gaan, wissel en verskil, is tydelik en eintlik hanteerbaar in die lig van God se oorvloedige beloftes.

Ons geloof rus op wie God is en wat Hy verteenwoordig. Of die wind waai en stormsee woed, of die tsunami dreig om alles te verspoel en of Covid-19 ons lewens bedreig, die enigste, vaste, onkreukbare, onwankelbare Waarheid wat daar is, is dat God ons van die begin af liefgehad het en nooit daarmee sal ophou nie.

Dank die Here vir sy beloftes en teenwoordigheid.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Yvonne ·

Dankie Here dat my vertroue op U is ongeag my omstandighede….U ken my deur en deur U is nader aan my as my eie skaduwee…Amen

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.