ToekomsVenster: Dank Hom vir genesing

strand-klippies-sonsopkoms

Foto: Christian Holzinger/Unsplash.com

As daar iemand van julle is wat siek is, moet hy die ouderlinge van die gemeente laat kom, en hulle moet vir hom bid en hom met olie salf onder aanroeping van die Naam van die Here. En as hulle gelowig bid, sal dit vir die sieke genesing bring: die Here sal hom gesond maak. As hy gesondig het, sal dit hom vergewe word. Bely julle sondes eerlik teenoor mekaar en bid vir mekaar, sodat julle gesond kan word. – Jak. 5:14-16

Soos swaarkry en vreugde is siekwees eweneens deel van menswees. Daar is seker nie ʼn mens wat nie al siek was nie. Daar is ook mense wat baie swaarkry onder kroniese simptome en wat daagliks met geweldige pyn saamleef. Siekte is ook een van daardie dinge wat ʼn mens nie volledig verstaan nie. Sommige mense bid of laat vir hulle bid en vind wonderbaarlike genesing. Ander vir redes wat nie aan ons bekend is nie bly met daardie ongesteldheid worstel. Ons moet versigtig wees om nie sondermeer antwoorde en verklarings aan te bied waarom ʼn persoon nie genees word nie.

Ons laat ons egter nie deur twyfelgedagtes lei nie. Ons maak soos die Woord sê. As iemand siek is laat die ouderlinge kom. Nie alle gemeentes het ouderlinge en diakens nie. Ek dink dit is veilig om te sê dat iemand wat geestelik volwasse is gevra kan word om te bid vir die sieke. Daarbenewens is die opsig en versorging van die kudde die ouderling se verantwoordelikheid.

Uiteindelik kan enige gelowige vir iemand anders bid omdat die Here sy genade vrylik uitdeel. Ek het al wonderlike getuienisse gehoor van wonders wat gevolg het nadat ʼn kind vir ʼn sieke gebid het. Alhoewel siekte nie sondermeer aan sonde gekoppel kan en mag word nie maak Jakobus daarvoor voorsiening. Indien daar sonde is moet dit bely word, teenoor mekaar asook teenoor die Here.

1 Joh.1:9 – Maar as ons ons sondes bely – Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid.

Ek dink nie die teks bedoel dat ons ons sondes soos in ʼn Roomse opset aan die priester moet bieg nie. Teenoor mekaar het sekerlik betrekking waar die sonde en oortreding met die ander persoon in verband staan. Aan die ander kant is daar terapeutiese waarde om met iemand anders te praat, selfs te bely en dan saam te bid vir vergiffenis.

Olie is tegelyk teken van die Heilige Gees asook die gebruik van medisyne.

1 Timoteus 5:23  – Moenie langer net water drink nie. Gebruik ‘n bietjie wyn vir die maag en vir jou herhaalde ongesteldhede.

Uiteindelike is alle genesing Goddelik en dank ons Hom daarvoor.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Koos ·

Dank hom ook vir die wat nie genees word nie. En vir tsoenamies en orkane.

SNEL ·

I’ll praise You in the storm (Casting Crowns) Al vergaan my uiterlike liggaam tog word ek elke dag van binne versterk. Al sal die vyeboom nie bloei nie en en en… nogtans sal ek juig in die God van my heil. Wat baat dit n mens om die hele wêreld te hê, maar aan sy siel lei hy skade. Vrees eerder Hom wat liggaam en siel in die hel kan werp. Ons lewe op aarde is kort, ek fokus eerder op die ewigheid, so selfs vir kanker wat nie genees nie, prys ek die Here, Hy bly in beheer, so sê God in sy Woord daar gaan aardbewings kom aan die einde en hierdie is net die begin…. Tsunami ‘s en goed maak my nie bang, as ek lewe is ek by my geliefdes, en as ek sterf by die Here, so ek het n wen-wen situasie. Lewe of sterwe byde is ek game voor. Ek vertrou eerder n God wat nie sin maak nie en wat ek nooit sal verstaan nie, want n god wat jy verstaan is beslis nie waardig om aanbid te word nie. Dis wat ons geloof nie, om die God van die onmoontlike te dien, loof en prys. Hy is in beheer en op Hom sal ek vertrou al gebeur wat. Hy laat alles ten goede uitwerk vir die wat Hom liefhet. Amen!!

SNEL ·

Dis wat ons geloof NOEM, om die God van die onmoontlike te dien, loof en prys.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.