ToekomsVenster: Dankbaar vir werk

Argieffoto (Foto: Pixabay)

“Wees in alle omstandighede dankbaar, want dit is wat God in Christus Jesus van julle verwag.” – 1 Tessalonisense 5:18 (AFR83)

Dit is ʼn voorreg om ʼn “werk” te hê, ek bedoel, soos ʼn pos, ʼn betrekking en ʼn werkplek. As ʼn mens daaraan dink dat bykans 40% van die Suid-Afrikaanse bevolking geen werksekuriteit het nie, waardeer jy die plekkie waar jy jou brood verdien soveel te meer.

Om te hou van wat jy doen, is ʼn wonderlike ervaring en voorreg. Soms hoor ʼn mens ander mense sê dat hul werk ook hulle stokperdjie is. Hulle geniet wat hul doen en dit maak hulle nie moeg nie.

Opstaan en werk toe gaan, is geen moeite nie. Trouens, sommige kan nie wag om by die werk te kom nie.

Dit is ongelukkig nie vir almal beskore nie, nie in ʼn omgewing waar die vraag die aanbod van werkgeleenthede betekenisvol oorskry nie.

Werk is skaars en as jy ʼn werk het, moet jy daaraan vashou, omdat daar soveel mense is wat gereed staan om jou plek in te neem.

Dit beteken dat ʼn mens anders sal moet begin dink oor jou daaglikse arbeid.

Begin bid vir die genade om dit wat jy doen, al is dit miskien nie jou eerste keuse nie, dankbaar as ʼn gawe uit die hand van die Here te ontvang en dit te koester.

Om voortdurend te mor en te kla, moeisaam op te staan en jou deur die dag te sleur, is om jouself geweld aan te doen.

Dit is self erger, dit is om die goedheid van die Here vlak te kyk en die God wat sorg te beledig.

Daarmee sê ek nie dat ʼn mens nie moet bly uitkyk vir ander geleenthede nie. Jy mag bid dat deure vir jou sal oopgaan en dat die Here jou die begeerte van jou hart sal gee.

Tot dan doen jy soos die Here van jou verwag.

Jy werk met entoesiasme, jy bring jou pond vleis, jy verdien jou salaris, jy doen dit met ʼn blymoedige gees en ʼn dankbare hart.

Immers, die Bybel sê mos, wees in alles dankbaar.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Hussin ·

Werk behoort ‘n gegewe te wees. Die hele dankbaar omdat ons onder haglike omstandighede leef is onaanvaarbaar.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.