ToekomsVenster: Dankbaarheid


oorgawe

Argieffoto.

Wees in alle omstandighede dankbaar, want dit is wat God in Christus Jesus van julle verwag. – 1 Tessalonisense 5:18

Dit is die laaste week van 2016. Ek kan my voorstel dat dit ʼn gewerskaf is om alles in plek te kry vir die groot Nuwejaarsfees saam met familie en vriende. Natuurlik is baie mense met vakansie. Onthou, ry veilig.

Dankie dat jy die tyd neem om hierdie oordenkinge en gedagtes te oorweeg. Ons neem nie net van die ou jaar afskeid nie, maar ook van ʼn paar dinge wat ons nie met ons wil saamvat die nuwe jaar in nie. Wat is alles in jou tas wat in 2016 moet agterbly? Dinge wat met God deurgepraat moet word, dalk ook met ander mense, en afgehandel moet word. Bagasie kan swaar en lastig raak veral as dit nie ʼn doel dien nie.

Ek wil voorstel dat ons daardie ondankbaarheid en vanselfsprekendheid waarmee ons leef ook nou na die Here toe bring. Neem jy tyd om die Here te dank vir sy genade of het jy ook so gewoond geraak dat die son soggens opkom en daar water in die kraan is? Neem jy dit as vanselfsprekend aan dat jou liggaamlike funksionaliteit in orde is, dat jy ʼn “werk” het, kan dink, besluit en optree? Is jy dankbaar vir die salaristjek aan die einde van die maand en oorweeg jy hoegenaamd hoe dit moet voel vir miljoene werklose mense in Suid-Afrika? Keer jy terug huis toe en kla eerder oor die elektriese hek wat weer onklaar is terwyl derduisende mense in totale ongerief woon? Besoek jy nog die erediens en raak die teenwoordigheid van God jou lewe? Het jy en lees jy die Bybel terwyl daar so baie Christene is wat selfs net ʼn gedeelte van die Bybel as die grootste skat van hulle lewens beskou?

Vandag neem ons afskeid van ons ondankbaarheid en vanselfsprekendheid. Ons bely dit teenoor die Here. Ons het in 2016 geleef asof hierdie dinge ons toekom. Ons het vergeet dat alles, alles genade is, onverdiende guns alleen.

Lied 244

Alles, alles is genade
Onverdiende guns alleen

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.