ToekomsVenster: Deel jou ervaringe van God


God-sentrum-van-my-lewe

Argieffoto.

Met my hele hart wil ek U prys, Here, wil ek van u magtige reddingsdade vertel. – Lees Psalm 9:2

Naas die Woord van God self is daar nie ʼn sterker getuienis as die van jou eie geloofservaring en reis nie. Stories het nuwe betekenis in ons tyd en anders as in die rasionalisme word groot waarde daaraan toegeken. Ons noem dit empiriese ervarings, mensbelewenisse, grondvlakgetuienis en wedervaringe. Ander mense kan daarmee identifiseer, hulle vind hulself en hul worsteling en soeke na sin in medemense se verhale. Mense kom agter daar skort nie met hulle omdat hulle sekere gedagtes koester en sekere gevoelens beleef nie. Dis eie aan menswees.

Om stories geloofwaardig te kan vertel moet ʼn mens uit jou gemaksone tree. Jy moet as’t ware ander mense vertrou met jou verhaal. Uiteraard gaan ʼn mens jou verhaal stylvol en met verantwoordelikheid vertel. Sommige detail is dalk nie nodig nie, goed wat ʼn mens as persoonlik sou kon beskryf.

Getuienisse wat met ervaringe te doen het, raak ander mense direk. Eensaamheid, hulpeloosheid, desperaatheid, depressie, oorweldig wees, angstig en moedeloos, wie het nie al met hierdie ervaringe geworstel nie? Vertel hoe God jou tegemoet getree het, hoe jy verligting gevind het, hoe jy die moed bymekaar geskraap het om op te staan.

Die Psalmdigter vertel van sy lewenservaringe. “Ek wil van U magtige reddingsdade vertel”

Moenie jou getuienis verwaarloos en by wyse van spreke onder ʼn maatemmer wegsteek nie. Laat dit werk en ʼn verskil maak in ander se lewens.

Nie spog nie, getuig!

Nie kla en bedel nie, getuig!

Nie jok nie, beïndruk nie, mislei nie, getuig!

  • Besoek die ToekomsVenster-inisiatief se webwerf vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.