Toe Jesus dit hoor, het Hy met ‘n skuit daarvandaan weggegaan na ‘n stil plek om alleen te wees. Die mense het hiervan gehoor en Hom van die dorpe af te voet gevolg. Toe Hy uit die skuit klim, het Hy die groot menigte mense daar gesien. Hy het hulle innig jammer gekry en die siekes onder hulle gesond gemaak. – Lees Matteus 14:13-14
Dit is interessant dat die vyf kern-waardes wat deur die Institute for Global Ethics geïdentifiseer is as die algemene belangrikste waardes internasionaal, almal ook verskyn in die waarde-lys wat Suid-Afrikaners spontaan genoem het in ‘n ondersoek van die organisasie Heartstart (hoewel in ander volgordes). Dit is die vyf waardes wat ons hierdie week saam oordink.
Ons fokus vandag op deernis:
Om deernis te hê beteken nie dat jy nie mense se foute raaksien nie. Innige meegevoel beteken om verby iemand se tekortkominge te kyk. Die feit dat iemand nie ons hulp verdien nie, beteken nie dat hulle nie ons hulp nodig het nie. Ons soek dikwels verskoning om nie empatie te toon nie. Ons fokus dan op mense se foute as verskoning vir ons apatie (onmenslikheid). Apatie sien mense se foute raak en besluit om op ‘n afstand te bly terwyl empatie mense se pyn raaksien en dit dring ons om betrokke te raak.
Alleen wanneer jy God se liefde en deernis beleef het ondanks jou foute en tekortkominge, kan jy met dieselfde liefdesoë na mense kyk en na hulle uitreik.
Dit is nou voorwaarlik n baie leersame en pragtige gedagte vir die dag.
Dankie Maroela Media.