ToekomsVenster: ‘Deur te sien op die kruis’

(Foto: Yannick Pulver/Unsplash)

Daardie ou en geliefde Halleluja liedere is in ʼn mens se gees ingegraveer. Net die tema van vandag se saamkuier, “deur te sien op die kruis”, laat my die res van die lied sing en beleef.

“Deur te sien op die kruis is daar lewe en heil

Is daar lewe vir jou en vir my

Sien op, sien en leef” – Halleluja-liedboek 208

Die kruis, dié leë kruis, is ʼn vaste verwysingspunt in ons geloofslewe. Wie nie met die kruis reken nie, het geen hoop nie. Dit is die oorwinning aan Golgota`s heuwel, bevestig deur die oop graf en die hemelvaart, wat ons met geloofsvertroue en moed vervul.

Ons praat baie oor die tydsgewrig waarin ons onsself tans bevind. Dit is onrustig en ontwrigtend. Hartseer, onseker, ontsteld, jy kan baie ander beskrywende woorde byvoeg om jou belewenis van die tyd te tipeer. Doen dit in elke geval, dit help jou om jou eie konteks en die verstaan daarvan te definieer.

Ek mag ʼn dominee wees, maar dit beteken nie dat ek ʼn towerstaf oor my gemoed swaai en siedaar, alles is beter nie. Ek worstel dikwels en wie my ken, sal weet dat dit waar is.

Miskien worstel ek meer as ander. Immers, is die tradisionele rol waarin ek myself saam met baie kollegas bevind nie die van die een met antwoorde nie. Indien nie klinkklare antwoorde nie dan ten minste ʼn troosteks wat sommer net so opgeroep en aangebied kan word.

Die werklikheid is dat ek somtyds nie ʼn teks vind wat troos nie, nog vir my eie problematiek, nog vir ander s’n.

In ons tuin staan ʼn kruis. In die aand is dit helder verlig. Wanneer ek by die venster uitkyk sien ek dié simbool van oorwinning, troos, hoop, uitsig en ʼn toekoms.

Ek het nie skielik al die antwoorde nie, trouens, ek bly worstel daarmee, maar die kruis, die kruis van Jesus se vernedering, eensaamheid, vertwyfeling, (My God waarom het U my verlaat?) herinner my dat Jesus weet hoe dit voel.

Ek is nie alleen nie. Hy het gesterf, Hy betaal ook namens my.

Uiteindelik staan Hy op om my daaraan te herinner dat my opstanding in die toekoms gewaarborg is maar, meer as dit, dat ek vandag kan “opstaan”, gevul met hoop en verwagting.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.