ToekomsVenster: Deurgrond my o God en ken my hart

hart-en-blare

Foto: Pixabay/Pexels.com

Lees: Psalms 139:1-6:

“1 Vir die musiekleier. ’n Psalm van Dawid. HERE, U deurgrond en ken my. 2 U ken my sit en my opstaan; U verstaan van ver my gedagte. 3 U deurvors my gaan en my lê, en U is met al my weë goed bekend. 4 Want daar is nog geen woord op my tong nie — of U, HERE, U ken dit geheel en al. 5 U sluit my in van agter en van voor, en U lê u hand op my. 6 Om dit te begryp, is te wonderbaar vir my, te hoog: ek kan daar nie by nie.”

Vir die volgende tien dae gaan ons vra: Hoe moet die Here ons harte verander sodat ons na mekaar kan uitreik? As ons Dawid se aangrypende Psalm 139 lees, besef ons: God ken ons harte – beter as wat ons self ons harte ken. Hy is die Een wat ons seer en pyn, ons hoop en frustrasie, alles wat in ons harte en gedagtes broei, raaksien. Hy gee insig. Hy salf ons wonde. Hy gee ons die krag en entoesiasme om op te staan, nadat ons geval het. Dis waarvoor ons moet bid in die dae wat voorlê.

Een van die mees aangrypende voorbeelde van hoe God in mense se harte kan werk, het Nico Botha, professor aan die Universiteit van Suid-Afrika, aan my vertel. Hy was by ’n ekumeniese vergadering iewers in Afrika, en was diep geroer deur die getuienis van ’n vrou uit Liberië. ’n Paar jaar gelede was daar ’n wrede en verwoestende burgeroorlog in die land. Kindersoldate is deur die vegtende groepe opgelei en aangemoedig om bloeddorstige aanvalle op hul eie mense te loods. Op ’n dag het ’n groep kindersoldate ’n dorp aangeval. Een van die vroue het met haar babatjie op haar rug probeer weghardloop. ’n Elfjarige soldaat het haar ingehaal en met ’n wrede gil die babatjie op die ma se rug met ’n bajonet doodgesteek. Twee jaar na die oorlog verby is, het die vrou die jong soldaat weer raakgeloop. Sy sou sy gesig nooit kon vergeet nie. Maar nou was die jong seun ’n bedelaar, miserabel en stoksielalleen sonder sy kamerade, op die markplein. Die vrou het nadergestap, haar arms om sy skouers geslaan en vir hom gesê: “Ek het nie meer ’n kind nie. Jy het nie meer ’n ma nie. Kom saam met my huis toe. Ek sal vir jou sorg en vir jou ’n ma wees. Jy kan my seun wees.”

Gebed:

O Here, ek het U met my hele hart lief. Maak U woning in my hart. U ken my hart beter as wat ek dit self ken, en daarom bid ek dat U my hart sal skoonmaak van alles wat vuil is, alle sonde, bose gedagtes en onheilige houdings. Gee my ’n gebroke en berouvolle hart, gevul met liefde en meegevoel vir dié wat ly, vir die armes, behoeftiges, oumense, weeskinders en jeug van ons land.

Leefwyse:

Die dag dat die Here my hart begin genees, my leer om nuut te dink en nuut om my heen te kyk, begin ek om ʼn vredesinstrument in Sy hand te wees. Dit vra baie liefde en toewyding. Maar ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee!

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.