ToekomsVenster: Die appel van Sy oog

(Argieffoto)

Beskerm my soos die appel van u oog, steek my weg in die skaduwee van u vleuels – Psalms 17:8

Die begrip skaduwee kom in al ons oordenkings hierdie week voor. Gister het ons gesels oor die kortstondigheid van die lewe, dit gaan soos ʼn skaduwee verby. Vandag dink ons na oor die beskerming wat ons by die Here God geniet.

Die teks maak gebruik van twee metafore naamlik die appel van u oog, asook die skaduwee van u vleuels. Die Boodskap vertaling gee dit soos volg weer: “Pas my op soos die appel van u oog. Laat my by U wegkruip. Daardie mense wil my met geweld vernietig”.

Appel van u oog volgens een bron word as volg verklaar: “Die uitdrukking appel van my oog word dikwels gebruik wanneer dit na familielede verwys word, of diegene wat die naaste aan ons is en beteken dat hulle iemand se gunsteling persoon of voorwerp is. Jennifer is die appel van haar pa se oog. Hy is so trots op haar”.

Vleuels verwys na vlerke. “Om onder die skaduwee van die Almagtige te woon, beteken om in konstante eenheid met Hom te lewe, sy Woord te onderhou en sy stem te gehoorsaam. Diegene wat in die Here bly, kan lewe sonder vrees vir wat die duiwel mag doen”.

Die wêreld het ʼn gevaarlike plek geword. Tog blyk dit dat om bedreig te wees vir watter rede ook al, ver terug strek. Die Psalmdigter getuig al van die noodsaak van beskerming en waar hy dit vind.

Die feit dat ons, geliefdes en uitverkorenes van God, sy beskerming geniet gee vrymoedigheid om elke dag sonder vrees tegemoet te gaan.

Die teks beteken seer sekerlik nie dat niks wat sleg is jou sal tref nie. Die praktyk bewys immers dat dit doodgewoon nie die werklikheid is nie.

Slegte dinge gebeur met God se mense ook. Wat die teks tog wel by ons wil tuisbring is dat die uitdagings van die lewe en dit wat ons moet ontbeer, nie by God verbygaan asof hy in sulke tye eerder wegkyk nie.

Ander beloftes omraam die onsmaaklike tye wat ons belewe. Beloftes soos “Ek sal jou nooit begewe of verlaat nie” en “soos vir hulle wat God liefhet werk alles ten goede mee”. Beloftes soos dat sonder God se medewete daar nie ʼn enkele haar van ons hoof sal val nie en dat ons name geskryf is in die boek van die lewe en van die Lam nie.

Selfs al sou ons ons lewens sogenaamd verloor as gevolg van gebeure wat ons te beurt val, bly ons veilig en gebore in sy Vaderhand.

Mag die pragtige belofte van hierdie Psalm vir jou, gunsgenoot en liefling van God, vandag en elke dag dra.

… want U is ‘n toevlug vir die armes, ‘n toevlug vir die behoeftiges in hulle nood, ‘n skuilplek teen die stortbuie, ‘n skaduwee teen die hitte. Die geweld van die wrede volk is soos ‘n winterstorm… – Jesaja 25:4

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.