ToekomsVenster: Die arm weduwee se gawe

bybel-lees-blaai-hand

Foto: Rod Long/Unsplash.com

Jesus het toe regoor die offergawe kis gaan sit en kyk hoe die mense geld daar ingooi. Baie ryk mense het baie geld ingegooi. Daar het toe ‘n arm weduwee gekom en twee muntstukkies ingegooi. Dit was baie min werd. Hy het sy dissipels nader geroep en vir hulle gesê: “Dit verseker Ek julle: Hierdie arm weduwee het meer ingegooi as al die ander mense wat iets in die offergawekis gegooi het. Hulle het almal uit hulle oorvloed iets ingegooi, maar sy het in haar gebrek alles ingegooi wat sy gehad het, alles waarvan sy moes lewe.” – Markus12:41-44

Kontraste loop sterk in hierdie gedeelte. Ryk en arm, oorvloed en gebrek, baie en min, alles en niks.

Die offergawes van die ryk mense is uiteraard ook belangrik mits dit met die regte gesindheid gegee word. Ons kan, soos ons gister gesê het, gesindhede nie beoordeel nie, dis die Here se werk. Sommige mense het die gawe daartoe en die geleentheid om dit optimaal te ontwikkel wat daartoe aanleiding gee dat hulle oorvloedig kan saai in die Koninkryk.

Jesus, word gesê het meer oor geld gepraat as enige iets anders. Maar geld maak nie reguit wat krom is nie. Geld is ʼn middel, noodsaaklik, maar nie onder alle omstandighede nie.

Daar is mense wat gereeld onder bome bymekaar kom wat dalk veel meer van God se nabyheid beleef as ons met ons luukse katedrale. Ook met laasgenoemde is daar nie fout nie, dit hang af van hoe geld spandeer word. Dit mag vir die kerk nie oor die drie g’s gaan nie, geld, geboue en getalle. Dit gaan oor mense en God, in die eerste en laaste instansie.

Die rykes het uit hulle oorvloed gegee. Betekenisvol om daarop te let dat daar godsdienstige mense is wat ryk is. Die een staan nie teenoor die ander nie. God deel sy genade op verskillend maniere uit. Dis sy reg.

Dan was daar die arm weduwee. Net so min as wat rykdom mense se aanvaarbaarheid by God verhoog het verhinder die vrou se armoede haar om ʼn betekenis volle verhouding met God te hê. Hy is immers nie ʼn aannemer van die persoon nie.

Sy het uit haar gebrek gegee. Trouens, wat haar offer soveel meer betekenisvol gemaak het is dat sy gegee het alles wat sy gehad het. Haar laaste bietjie.

Sy het alles gegee. Waarvan sou sy lewe? Die gee was offervaardig in die volle sin van die woord. Sy het God mateloos vertrou en het waarskynlik gevoel dat dit is wat die Here van haar vra. Sy was gehoorsaam en God beloon gehoorsaamheid.

Dis ʼn moeilike vraag, die een van hoeveel moet ek gee.

Die Here vra verskillende goed van verskillende mense. Beteken die gedeelte dus dat jy as ryk persoon nie moet gee nie? Uiteraard nee. Beteken dit dat jy as behoeftige alles moet gee wat jy besit. Uiteraard nee. Jy moet gee, sê die Bybel, soos jy in jou hart oortuig is.

Laat die Gees jou hierin lei en weet dat wat vir God se werk gegee word nie sonder dividend na jou sal terugkom nie. Hy is getrou.

Tiendes en offergawes. Intens persoonlik en tussen jou en God. As jy Hom vra sal Hy jou lei hierin. Dis egter ʼn voorreg om te kan gee, ʼn vaardigheid en gawe wat ons maar gerus kan aanleer.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.