ToekomsVenster: Die beker is bitter

koffie-prut-kook-bitter

Foto: Clem Onojeghuo/Unsplash.com

“Hy het ’n entjie verder gegaan en daar gekniel met die gesig teen die grond en gebid: ‘My Vader, as dit moontlik is, laat hierdie lydensbeker by My verbygaan. Moet nogtans nie doen soos Ek wil nie, maar soos U wil.’” – Matteus 26: 39

Die intensiteit van Jesus se trauma kan gesien word in sy gebedshouding by hierdie geleentheid. Hy kniel met sy gesig teen die grond, wat intense afhanklikheid demonstreer. Daar kan geen twyfel wees dat die beker waaraan Jesus deel moet hê nie ’n geringe saak is nie. Hy is nie masochisties en arrogant oor sy komende lyding nie.

Die wyse waarop Jesus Hom aan sy Vader se leiding onderwerp, is betekenisvol. Ongeag sy eie swaarkry en wetende dat sy Vader se hart uitmekaar skeur oor die lyding van sy Seun, onderwerp Jesus Hom aan sy Vader se plan.

Wanneer ons dus lyding moet verduur − dit is deel van ons gebroke wêreld − onthou dat Jesus die lydingsbeker volledig geledig het. Daarom kan ons saam met Paulus roem dat selfs lyding ons nie van die liefde en genade van God kan vervreem nie. (Romeine 8:31) Was jy al benoud oor iets wat vir jou voorgelê het? Hoe het jy toe die Here se teenwoordigheid in gebed ervaar? Wat is nou jou getuienis aangaande God en sy kinders se swaarkry in hierdie wêreld?

Gebed

Jesus, U swaarkry op aarde kan nie vergelyk word nie.
Ek is skaam oor wat my sonde U aangedoen het.
Nogtans het U my vergewe.
Dankie daarvoor.
Amen.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.