ToekomsVenster: Die besetene in Kapernaum

lamp-lig-maanlig

Foto: Guilherme Stecanella/Unsplash.com

Hulle het in Kapernaum gekom. Toe die Sabbatdag aanbreek, het Jesus reguit na die sinagoge toe gegaan en die mense daar begin leer. Hulle was verstom oor sy leer, want Hy het hulle geleer soos een wat gesag het, en nie soos die skrifgeleerdes nie. Op daardie oomblik was daar in hulle sinagoge ‘n man wat van ‘n onrein gees besete was. Hy het uitgeskreeu: “Wat het ons met U te doen, Jesus van Nasaret? Het U gekom om ons te verdelg? Ek weet goed wie U is; U is die Heilige van God!” – Markus 1:21-28

Dis onafwendbaar dat die duisternis sal manifesteer wanneer die verblindende lig van God se teenwoordigheid inbeweeg. Die duisternis kan die lig nie oorweldig nie.

Die bose is God se teëparty. Hy is ʼn leuenaar en mense moordenaar en laat ʼn spoor van verwoesting agter. Uiteraard openbaar die bose nie sy ware aard uit huis uit nie. Dis die oomblik wanneer die heerlikheid van God in die omgewing inbeweeg dat die bose ʼn onuithoudbare ongemaklikheid beleef. Sy gewaande sekuriteit word bedreig. Jesus se reaksie op die manifestasie van die onrein gees is betekenisvol. Daar vind nie gesprekke plaas nie. Daar is nie sprake van onderhandeling nie. Dis nie ʼn uitnodiging nie. Dis duidelik en direk. “Bly stil. Gaan uit”.

Skielik word die bose ʼn “evangelis”. “Ek weet goed wie U is, U is die Heilige van God”. Jesus laat Hom nie verlei nie. Hy weet waarmee Hy te doen het. “Bly stil”.

Die mense is stomverbaas dat Jesus, Seun van ʼn Timmerman, met soveel gesag praat. Die teks sê nie soos die Skrifgeleerdes nie. Lg. het die kennis maar nie die Gees, die passie, die deurleefdheid en openbaring wat nodig is om ʼn verskil te maak nie. Hul onvermoë om mense te bedien in die kragveld van die Gees word duidelik wanneer Jesus op die toneel verskyn.

Wat is die verskil tussen die lering, prediking en optrede van Jesus en die van die Skrifgeleerdes? Dit is godsdiens sonder verhouding, intimiteit, stilte.
Lering sonder die Duif, onthou hoedat by Jesus se doop die duif uit die hemel op Hom daal en die woorde dit is my geliefde Seun die oomblik heilig verklaar.

Hoe reageer mense op jou prediking, getuienis? Maak dit hond haaraf? Is dit eintlik net moralisme wat bestaan uit veroordeling en verskuilde hoogmoed? Spreek en verkondig jy lewe of dood?

Die een oordeel en veroordeel, die ander trek nader en bevry.
Dis die Duif wat die verskil maak.
Brei jou arms uit voor God en roep die duif nader.

Probeer ʼn rede vind waarom die nuus aangaande Jesus so vinnig versprei het.

Gebed:

Here, somtyds is ons as Christene en die manier waarop ons lewe die ergste blokkasie in die pad van die Evangelie.
Verwyder alles wat U saak ongeloofwaardig kan maak in my lewe.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Frank ·

Dankie Jannie vir jou skrywes! Voel nou weer meer gemaklik met Woord eerste, verklaring tweede. Lees elke aand.
Net een opmerking, “soos ‘n duif” beteken allermins “in die liggaamlike gestalte van ‘n duif”. Glo jy het dit so bedoel, net nie genoem nie.

JWC ·

Pragtig gestel!! Gelees in die gees… dan is alles helder en duidelik! Baie dankie!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.