ToekomsVenster: Die besetene van Gerasa

boeie-vry-vryheid-los

Foto: Pixabay/Pexels.com

Daarna het hulle oorkant die see in die land van die Geraseners aangekom. Net toe Jesus uit die skuit klim, het daar van die grafte af ʼn man met ‘n onrein gees Hom tegemoet gekom. Die man het tussen die grafte gebly. Niemand kon hom selfs met ʼn ketting vasbind nie, want hulle het hom al dikwels met voet- en handboeie vasgemaak, maar dan ruk hy die handboeie uitmekaar en skop die voetboeie stukkend. Niemand kon hom baasraak nie. Hy was dag en nag aan die skreeu tussen die grafte en in die berge, en dan kap hy homself met klippe. Hy het Jesus al van ver af gesien en nader gehardloop. Hy het voor Hom neergeval en hard geskreeu: “Wat het U met my te doen, Jesus, Seun van God die Allerhoogste? Ek smeek U: In Gods Naam, moet my nie pynig nie!” want Jesus het vir hom gesê: “Onrein gees, gaan uit die man uit!” Hy het hom toe gevra: “Wat is jou naam?”
“My naam is Legio,” antwoord hy Hom, “want ons is baie.” Die man het Hom toe ernstig gesoebat om hulle nie uit die landstreek uit weg te stuur nie. Daar naby teen die berg het ʼn groot trop varke geloop. 12Die onrein geeste het Hom toe gesmeek: “Stuur ons na die varke toe, sodat ons in hulle kan invaar!” Hy het hulle dit toegelaat, en hulle het uitgegaan en in die varke ingevaar. Die hele trop van omtrent twee duisend het op loop gesit teen die hang af, die see in, en hulle het versuip. Hulle wagters het weggehardloop en dit in die dorp en op die plase gaan vertel. Die mense het kom kyk wat daar gebeur het. Toe hulle by Jesus kom en die besetene in wie die baie bose geeste was, daar sien sit met sy klere aan en by sy volle verstand, het hulle groot geskrik. Dié wat alles gesien het, het vir hulle vertel wat met die besetene gebeur het, en ook van die varke. Hulle het toe by Jesus daarop aangedring om uit hulle gebied uit weg te gaan. Toe Jesus in die skuit klim, het die man wat van die duiwel besete was, by Hom daarop aangedring om saam met Hom te gaan. Jesus het hom dit egter nie toegelaat nie maar vir hom gesê: “Gaan na jou huis, na jou mense toe, en gaan vertel vir hulle wat die Here alles vir jou gedoen het en dat Hy jou jammer gekry het.” Hy het toe gegaan en deur die hele Dekapolis begin bekend maak wat Jesus alles vir hom gedoen het. Almal was verbaas daaroor. – Markus 5:1-20

Die vernietigende werk en invloed van die bose is bekend. Markus maak geen geheim daarvan dat Jesus Homself nie deur die bose geeste laat intimideer of laat afskrik nie. Soos in die woestyn tydens sy versoeking net nadat Jesus gedoop is tree Hy ook hier met volle beheer oor die situasie op.

Die uitwerking van die inwonende bose geeste, (legio dui op baie demone) is vernietigend, vernederend en mens onterend. Hoe dit gekom het dat hierdie arme man deur bose geeste beset is, word nie vertel nie.

Ons moet versigtig wees dat ons nie so van duiwel en bose gees bewus word dat ons ons fokus op Jesus verloor nie. Aan die ander kant moet ons met die werklikheid van die vernietigende werk van die bose rekening hou.

Die Bybel sê gee die duiwel geen vatkans nie (Efesiërs 4:27).

Kinders van die Here hoef nie bekommerd te wees dat die duiwel in hulle sal woon en werk nie. Geen bose gees kan die tempel van God deel nie. Tog kan die duiwel die lewe vir kinders van die Here onaangenaam maak en doen hy dit inderdaad. Sonder om met Hom in gesprek te tree behoort ʼn mens doodgewoon soos die Skrif te sê: God sal jou straf.

Die bose is aan die kruis, bevestig deur die oop graf, ontneem van sy krag en invloed in mense se lewens behalwe in die mate waarin hulle hom bewustelik of onbewustelik toestemming gee . Bly weg van verkeerde goed af. Moet met okkultiese bedrywighede geen kontak hê nie. Laat geen ander invloed in jou lewe toe behalwe God se Gees nie. Beskerm jouself deur geklee met die volle wapenrusting elke dag tegemoet te gaan.

Ons is nie gemaak vir die grafte nie. Ons is nie grafbewoners nie. Moenie toelaat dat die bose jou in die mate intimideer dat jy opgee op jou koninklike status voor God nie. Dis opmerklik dat selfs die bose Jesus om genade smeek.

Wat ʼn heerlike kontras. Die perikoop begin met die ontstellende toneel wat Jesus begroet maar eindig met die vrede en harmonie wat net die Gees gee. Die man het sy menswaardigheid teruggekry.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.