ToekomsVenster: Die bose is ’n werklikheid

(Foto: Jonathan Kemper/Unsplash)

“Ons stryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen elke mag en gesag, teen elke gees wat heers oor hierdie sondige wêreld, teen elke bose gees in die lug.” – Efesiërs 6:12 (AFR83)

Ons gesels hierdie week met mekaar na aanleiding van die bekende gedeelte in Efesiërs 6 waar dit oor die wapenrusting gaan wat God deur sy Gees gee. Ek wou “toerusting” skryf toe ek my bedink.

Wat God gee is inderdaad toerusting, maar die konteks wat deur die woord “wapenrusting” na vore kom is inderdaad een van aanvegting, weerstand bied, paraat wees en selfs veg.

Jy gee nie vir iemand ʼn wapen as daar nie die moontlikheid van gevaar is nie. In die geval van Christene is die gevaar nie denkbeeldig nie, maar ʼn werklikheid. Die geveg is ʼn realiteit, dit is ʼn geveg wat met mening geveg moet word, ʼn geveg wat fokus, erns en toewyding vra. Dit vra ook vaardigheid om inderdaad met die instrumente wat uitgevaardig word, te kan vorder.

Die Bybel leer ons dat die duiwel ʼn werklikheid is, teen-goddelike magte daag die gesag van God, die geloofwaardigheid van sy Woord, die krag van sy beloftes en die koms van sy Koninkryk uit. Die Bybel is daaroor duidelik, ons vyand, die duiwel, loop rond soos ʼn brullende leeu, opsoek na iemand wat hy kan verslind.

Let op die woorde wat gebruik word.

Die bose wil nie net die lewe ietwat onplesierig maak nie. Hy het ʼn agenda en boonop ʼn strategie. Dat hy slaag in sy voorneme is duidelik in die lewens van soveel mense wat met oortuiging die pad begin loop het, maar iewers langs die pad handdoek ingegooi het.

Soos die saad het die uitdagings wat met die lewe gepaard gaan die ontkieming daarvan gesmoor.

Dit vra na ʼn delikate balans wanneer ʼn mens nadink oor die impak wat die duiwel in ʼn mens se lewe probeer uitoefen. Enersyds kan Christene te veel aandag en fokus gee aan sy bestaan, impak en werking.

Ons fokus is en bly die koningsheerskappy van God in Christus Jesus. Ons is meer as oorwinnaars en stap in die triomftog van ons God deur hierdie wêreld.

Dan weer kan ʼn Christen die impak van die bose onderskat, asof hy geen faktor is nie. Die bose het mag en gebruik dit op ʼn verwoestende wyse. Sy mag is egter gewaande mag.

Kinders van God staan onder die gesag en onder beskerming van die Heilige Gees. Ons is inderdaad gewapen met die volle wapenrusting van God. Ons laat ons nie intimideer nie, maar word ook nie onvoorbereid gevang nie.

  • Wil jy meer weet oor die ToekomsVenster-projek? Stuur ʼn e-pos aan ds. Jannie Pelser by [email protected] vir nog inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.