ToekomsVenster: Die Bybel en geld

plant-plantjies-grond

Foto: Binyamin Mellish/Pexels.com.

Ons is basies aan die einde van ons reis deur die Bybel rakende die gelowige en geld. Baie dankie dat jy saam gereis het. Die laaste paar dagstukkies gaan opsommend van aard wees om jou te help om net weer oor die belangrike onderwerp te besin.

Dit is uitgewys dat die Bybel ons as gelowiges baie kennis bied rakende geloof en geld. Verder het ons gesien dat geld verdien en spandeer moet word. Hierdie twee areas van geld vra egter nie net wysheid nie, maar goeie bestuur en selfdissipline. Die spaar van geld het alreeds sy fondasie in die boek van Genesis. Daar leer ons dat ’n spaarplan eintlik ’n noodfonds is vir die toekoms. Spaargeld help my ook wanneer dit by my aftrede kom waar ek nie meer vir geld werk nie, maar waar geld vir my werk.

Verder is die gevaar van skuld uitgewys. Die ideaal is natuurlik om sonder skuld te leef. Dit is genoem dat dit baie maklik is om skuld te maak en in die meeste gevalle koop mense dinge wat eintlik geen verskil in hul lewens maak nie. Waak dus teen skuld en werk met ’n plan van aksie om skuldvry te kom. Begin te glo dat jy wel skuldvry kan leef en só finansieel vry kan wees.

Laastens is dit uitgewys dat geld in die hand van die gelowige ook saad is. Saad het spesifieke karaktereienskappe en drie is uitgewys. Die eerste waarheid waarna verwys is, is die een van dat dit wat jy saai, jy sal maai. Die onus berus dus by die boer om te saai. Die tweede eienskap wat uitgelig is, is dat jy altyd meer oes as wat jy geplant het. Hierdie is ’n natuurlike wet wat vir almal geld as jy saad plant. Laastens is dit beklemtoon dat die boer wat saai altyd in ’n ander tyd maai. Daar is dus ’n tyd om te saai en ’n tyd om te maai.

Gelowiges het dus die verantwoordelikheid om hulle geld in al die bogenoemde areas te bestuur. Die voordeel wat ons het, is dat ons wysheid kan vra en die Here sal dit vir ons gee. Bid dus gereeld vir wysheid rakende jou geldsake en vertrou die Here met jou saad.

Gebed

Here, help my asseblief om met sukses in al die bogenoemde areas van geld te werk. Dankie vir U seën.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.