ToekomsVenster: Die Bybel is waar

gebed-bybel

Foto: Ben White/Unsplash.com

Hierdie dinge het oor hulle gekom as ‘n voorbeeld vir ons en is opgeskryf as ‘n waarskuwing vir ons wat die einde van die tye al beleef. – 1 Kor. 10:11

Die Bybel is nie ʼn storieboek nie, dit is die lewende en geïnspireerde Woord van God. Die Bybel is waar en bevat die Waarheid aangaande God se plan met mense en met die wêreld. Dit is betroubaar en kan met oortuiging uitgeleef word.

Die Bybel is nie ʼn wetenskaplike handboek nie. Die skrywers het uiteraard vanuit hul verstaanshorisonne geskryf en mense van hul tyd sou presies geweet het waarvan daar gepraat word en hartlik daarmee saamgestem het. Dit was die wêreldbeeld van die tyd.

Deel van die kultuuropdrag wat God sommer aan die begin aan Adam en Eva gegee het, was om die aarde bewoonbaar te maak en tot voordeel van mense te bestuur – nie om dit uit te buit soos daar gedoen is nie. Wetenskaplikes maan ons voortdurend dat die aarde moeg is en nie die druk wat ons daarop plaas, meer kan dra nie. Dit is asof die aarde van tyd tot tyd opstandig raak en met een of ander natuurramp en ongewone omstandigheid reageer.

Romeine sê dit mooi: die aarde sug, en ons sug ook. Die Gees sug ook, ons almal wag op die dag dat alles nuut gemaak sal word. Tot dan is wetenskaplikes wat meerdere kennis het as die Bybelskrywers besig om te besin hoe die bronne wat nog oorgebly het die groeiende aantal mense wat die aarde bewoon kan versorg.

Daar is wel beginsels in die Bybel wat implikasies vir die wetenskap het. Een daarvan is dat die aarde aan die Here behoort, dat Hy die Skeppergod is, dat Hy steeds besig is met sy onderhoudende genade, so kan ʼn mens voortborduur.

Dit is nie ʼn geskiedenisboek nie, ja, dit bevat baie geskiedkundige materiaal maar die gesag van die Bybel lê nie daarin nie. Mens kan ʼn saak uitmaak dat die Bybel nie ʼn handboek vir geologie, opvoedkunde of dierkunde is nie. Ons kan die Bybel dus nie sonder meer daarvoor inspan nie. Ons moet die eie aard van die Bybel in gedagte hou.

Die Bybel is egter ʼn geloofsboek, ʼn openbaring, ʼn bekendmaking van Goddelike waarhede. Dit is ʼn getuienis, die getuienis van hoe mense sedert die eerste tye in die teenwoordigheid van hierdie God gelewe het, hoe hulle sin gemaak het van die uitdagings wat die lewe bied, hoe hulle hul aanbidding ingerig het. Dit vertel ons van God se Seun op aarde, sy versoeningswerk en die gawe van die Heilige Gees wat na sy vertrek by ons kom woning maak het.

Die teks sê dat hierdie dinge, heilswaarhede, terwille van ons opgeteken is. Wie daarna luister en daaruit leer en die voorbeeld wat daarin gestel word as gesagsvol beskou, geniet die seën van ʼn verhouding met die God van die Bybel.

Vir die ander is die Bybelse getuienis ʼn waarskuwing dat God op ʼn dag van afrekening besluit het.

Ek is so dankbaar dat my naam en jou naam opgeskryf is in die Boek van die Lewe en van die Lam.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Yvonne ·

Ek is so dankbaar ek het n Bybel…ek kan lees ….ek kan daaruit put …kennis, verstaan en leiding, net soos die Heer dit wil gebruik…Amen

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.