ToekomsVenster: Die dag toe almal saamstaan

Slaggate in teerpaaie (Foto: Vrystaat Landbou)

Moenie die dag van klein dingetjies gering ag nie. Die mense sal bly wees wanneer hulle sien Serubbabel gaan aan met die bouwerk. – Sagaria 4:10

Dat Suid-Afrika ernstige uitdagings het wanneer dit by dienslewering kom, is algemene kennis. Daar gaan nie ʼn dag verby dat daar nie ʼn betoging of protesaksie is van mense wat ernstig ly onder die onvermoë en onwilligheid van plaaslike owerhede om te doen waarvoor hulle getaak is nie.

Dit is ondraaglik om koers te hou wanneer slaggate jou bande stukkend sny en riool by jou voordeur inloop.

Waar ek woon gaan dinge eintlik heel goed en daarvoor is ʼn mens baie dankbaar. Daar is egter gemeenskappe wat uitmekaar val oor die tamheid van verantwoordelike persone. Kla, protesteer en dreig het ook nie altyd die gewenste uitwerking nie.

In Ficksburg het ʼn baie interessante ding gebeur. Onder opskrif “Die dag toe almal saamstaan” word vertel hoe, glo dit as jy wil, taxibestuurders en boere bymekaar gekom het ten einde die toedrag van sake te bespreek. Die pad bekend as die Hammonia-pad het totaal onbegaanbaar geword. Motoriste wat die pad gebruik is hul lewens nie seker nie benewens die enorme en gereelde skade aan voertuie, veral bande.

Een mooi Woensdag staan honderde trekkers, sleepwaens en taxi’s die pad toe met ʼn versperring wat geen verkeer deurlaat nie.

Daar was geen saakbeskadiging en buite bande wat brand nie. Net ʼn ongeduldige maar gelowige gemeenskap wat ʼn streep in die sand getrek het.

Laat middag arriveer die LUR vir vervoer en paaie en kry sy rigting sukkel-sukkel deur die gate in die pad tot waar moeilike boere, sakelui en taxibestuurders hom inwag. Die volgende oggend reeds begin herstelwerk en dit fyn gemoniteer.

Jan Publiek is nie sonder verweer nie. Profetiese protes neem verskillende vorme aan. Die stylvolheid waarmee Jesus opgetree het moet kenmerkend bly van mense se optrede, ook wanneer hulle ontevrede is. Tog bemoedig gebeure soos hierdie ʼn mens dat amptenare dalk somtyds net ʼn bietjie aanmoediging nodig het en dan gebeur dinge.

Moenie die dag van klein dinge geringskat nie.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Yvonne ·

Dankie Here dat U gewone mense soos ons gebruik vir buitengwone omstandighede

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.