ToekomsVenster: Die deur staan steeds oop vir jou

(Foto: Jan Tinneberg/Unsplash)

Wie die Seun het, het die lewe; wie nie die Seun van God het nie, het ook nie die lewe nie. – 1 Joh. 5:12

Somtyds wil ons die lewe so moeilik maak. Toegegee, somtyds is die lewe kompleks en basies onverstaanbaar.

Die teenoorgestelde van moeilik is nie simplisties, eenvoudig en in alle opsigte deursigtig nie, inteendeel. Reeds uitdagende omstandighede word egter somtyds verder kompliseer omdat ons ʼn  klomp goed in en bytrek wat met die probleem niks te make het nie.

Verlossing en die pad daarheen is nie moeilik nie maar dit is nie eenvoudig nie.

Die duursaamheid van ons verlossing, dit wat die hemel opgeoffer het sodat ons gered kan word, is onverstaanbaar heerlik en misterieus.

Die Seun, God self, word mens.

God sterf aan ʼn  kruis.

God is van God verlate.

God vra dat die beker by Hom verby gaan.

Jesus was tog tegelykertyd God en mens gedurende sy termyn op aarde. Hy het nie sy Goddelikheid prysgegee nie, Hy het sy bestaan op Godgelyke wyse in die hemel, die ander dimensie, opgegee.

Net God kan tog wonderwerke doen, net Hy kan sonde vergewe, net Hy beweeg ongeïnhibeerd in die kragveld van die Gees. Tog het Jesus wat sy plaasvervangende lyding betref besluit om Hom nie op sy Goddelike almag en vermoë te beroep nie. Hy het as mens, ook as God, die pad tot sy finale konsekwensie gestap. Ja, wie kan dit tog verstaan?

Nou kom die teks en lê die toets vir ons verlossing helder en duidelik aan. “Wie die Seun het, het die ewige lewe en wie die Seun nie het nie, het nie die ewige lewe nie”.

Dit kan nie duideliker nie.

Hoe kry ʼn mens deel aan die Seun?

Jy vra Hom om jou deel te maak. Eerlik, opreg en afhanklik bely jy dat jy dit nie vir jouself of vir ander kan doen nie.

“Here, red my” kom uit ʼn opregte hart. Wat daarop volg is hemels en ewig. Jou naam word geskrywe in die boek van die lewe en van die Lam.

Die vraag is dus doodgewoon: het ons deel aan die Seun, of nie?

Indien ja, vul dit jou met dankbare liefdesarbeid.

Indien nie, staan die deur staan steeds oop vir jou ook, soos die bekende Halleluja lied dit verwoord het:

“Ek sien ʼn deur wyd ope staan en deur die aardse duister

Verlig ʼn lig my lewensbaan met wonderskone luister

Genade God, so ryk en vry, die deur staan ope ook vir My.

Vir my, vir my, staan ope ook vir my.

Die deur staan oop vir ieder een wat redding soek van sonde”

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.