ToekomsVenster: Die dimensies van die kruis

(Foto: Stephan Hauman)

“Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het.” – Johannes 13:35 (AFR53)

Ons hou ʼn diens op Goeie Vrydag vir die kinders en gemeenskap van Appelpark, ʼn minder gegoede omgewing in Krugersdorp.

Minder gegoed beteken nie dat die mense nie waarde het nie. Inteendeel. Dit beteken nie dat hulle nie betekenis tot die lewe toevoeg nie. Dit beteken net dat hulle veral finansieel swaar trek en ondersteuning vanuit die gemeenskap waardeer.

ToekomsVenster, ons bediening, het twee parke gebou vir die kinders wat andersyds op die strate aangewese sou wees. Die terrein het nou ʼn bymekaarkomplek vir die hele gemeenskap geraak en allerlei aktiwiteite word daar aangebied. Onder andere is daar kinderdienste op Sondae en dit word aangevul met ʼn eetdingetjie en lekkerny. Sowat 130 mense tree Sondae aan, dalk meer vir die versnapering, maar ons doen moeite om die Boodskap by hulle uit te bring.

Goeie Vrydag was weer so ʼn geleentheid. Ons laat sny 200 riete wat as kruise kan dien. Uiteraard moet die riete, klein en kort genoeg wees dat selfs die kleinste outjies dit kan hanteer. Dis die dat ek Google gaan vra wat die dimensies van ʼn kruis is.

Die dwarslat is glo die helfte van die lang een en dit word ongeveer ʼn kwart van bo af aangebring. Ek moet nog dink hoe ek die goed aanmekaar gaan kry, maar dit daar gelaat.

Inderdaad, die dimensie van die kruis. Vertikaal en horisontaal. God en mens en mens en mens. Die een voorwaarde, die ander gevolg. Die een kan nie sonder die ander nie. Jy kan nie sê dat jy die Here liefhet maar onversoend met jou naaste leef nie. Jy kan nie verbitterd en onvergewensgesind bly leef as jy die vergifnis van Jesus wil ervaar nie.

Die kinders neem hartlik deel. Ek verduidelik so goed ek kan. Jesus het jou lief sodat jy die maatjie langs jou kan liefhê. Dit werk nie anders nie. Die een is voorwaarde, die ander die noodwendige gevolg.

Die maatjies is verteenwoordigend van Suid-Afrikaanse realiteite en hulle vat mekaar se handjies en sing: “Ek aanvaar jou met die liefde van ons Heer”.

  • Wil jy meer weet oor die ToekomsVenster-projek? Stuur ʼn e-pos aan ds. Jannie Pelser by [email protected] vir nog inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.