ToekomsVenster: Die dissipel en die seerower

Argieffoto (Foto: Sixteen Miles Out/ Unsplash)

“Maar as ons ons sondes bely – Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid.” – 1 Johannes 1:9 (AFR83)

Vandag is kostuum-dag by die skool. Nihan moet ʼn Bybelkarakter uitbeeld en Lunamé ʼn seerower. Toe ek voorstel dat Nihan Elia verbeeld, antwoord hy dat hy ʼn dissipel is. Lunamé het haar feetjierokkie aan, bedekking oor die een oog soos dit ʼn seerower met selfrespek betaam en ʼn papier swaard in die hand, gereed vir die skool en gereed vir die lewe, die dissipel en die seerower.

Ek geniet metafore soos ek al dikwels gesê het en wil graag ʼn gedagtes of twee wissel na aanleiding van die twee.

Die lewe is vol dissipels, maar die lewe is eweneens vol seerowers. Goed en kwaad bestaan naas mekaar. Jesus het daaroor gepraat toe Hy gesê het dat die onkruid saam met die koring moet groei. Oesdag sal die ware feite openbaar van wie dan nou wie is. Lees gerus Matteus 10:35 vir meer hieroor.

Elkeen sal die loon ontvang wat hom toekom, goed of kwaad. – 1 Korintiërs 3:13-15

Seerowers bedreig ons sekuriteit. Seerowers is selfsugtig en het net selfverryking voor oë. Hulle ontsien geen lewe nie en laat ʼn spoor van verwoesting agter.

Psalms 73 sê, soms lyk dit of seerowers die geheim van die lewe ontdek het. Met hulle gaan dit goed terwyl die dissipels sukkel om te oorleef. Tog, al is dit soms moeisaam getuig die dissipel:

“Ek was jonk, en nou is ek oud. Maar ʼn regverdige mens wat verlate is, het ek nooit gesien nie, of dat sy kinders vir kos moes bedel nie.” – Psalms 37:25 (NLV)

Dit is tyd dat die dissipels opstaan, ook in Suid-Afrika. Die seerowers het hulself onregmatig verryk, dis tyd dat wat gesteel is, terugkom. God se eer, die heiligheid van sy naam, die belang van sy kinders, die Koninkryk in die praktyk van elke dag.

Dan weer is daar tegelykertyd ʼn dissipel en ʼn seerower in elkeen van ons. Paulus noem dit, die stryd tussen die gees en die vlees en dit duur lewenslank.

Somtyds roep ons soos Paulus:

Ek ellendige mens! Wie sal my verlos van die liggaam van hierdie dood? – Romeine 7:24 (AFR53)

Deur die krag van die Heilige Gees kan ons die seerower in onsself oorwin.

Jesus het die seerower in ons en in die wêreld ontmasker vir wie hy is.

Die Bybel konfronteer ons deurentyd met ʼn keuse.

Kies dan vandag, leer ons in Deuteronomium: Wie wil ek wees, en wie wil jy wees.

Mag die dissipel voortstap.

  • Wil jy meer weet oor die ToekomsVenster-projek? Stuur ʼn e-pos aan ds. Jannie Pelser by [email protected] vir nog inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.