ToekomsVenster: Die dood is vernietig, die oorwinning is behaal

(Foto: Japheth Mast/Unsplash.)

Ons gesels hierdie week oor die somtyds ontstellende werklikheid van die dood. Dit is so dat ons die onderwerp liefs vermy. Dit laat ons verleë, hartseer, ontsteld en selfs bevrees. Die Bybel wil nie dat ons in vrees lewe nie, ook nie vir die dood nie. Mens gaan die toekoms op een van twee maniere tegemoet, of in geloof of met vrees.

As ons bou op die onverganklike en betroubaarheid van God se ewige Woord hoef ons nie in doodsweet uit te slaan wanneer die onderwerp ter sprake kom nie.

Daar is die wonderlikste vers in die nuwe Testament wat alle angs en vrees kan verdryf. Jy vind dit in Hebreërs 2:14-15:

Aangesien hierdie kinders mense van vlees en bloed is, het Hy ook net soos hulle mens geword. Dit het Hy gedoen om deur sy dood dié een wat mag het oor die dood, dit is die duiwel, te vernietig en om hulle wat uit vrees vir die dood hulle hele lewe lank in slawerny was, te bevry.

Let op die belangrike inligting en waarhede wat in hierdie vers vervat is:

  • Jesus het mens geword ten einde met ons te identifiseer.
  • Die duiwel se mag oor die dood is verbreek, trouens, ʼn sterk woord word gebruik. Sy mag is vernietig.
  • Die vrees wat mense vir die dood gehad het skuif nou op die agtergrond in die lig van die oorwinning wat Jesus vir en namens ons behaal het. Daardie vrees het ons in slawerny gehou maar ons het nou vrygekom deur sy liefde vir ons.

Daar is ʼn tweede belangrike saak: nie alleen is die prins van die dood se mag verbreek nie maar die krag en invloed  van die dood is verbreek. Die bekende vers in 1 Kor.15:55 is ter sprake:

“Dood, waar is jou oorwinning? Dood, waar is jou angel?”

Moenie langer gevange gehou word deur die werklikheid van die dood nie. Waar die liefde volmaak geword het is daar geen vrees nie leer die Bybel ons. Kom vry in Jesus Naam, gee aan Hom die eer dat Hy in lewe en dood ons sekuriteit is.

Uit Lied 292 kan jy nou saamsing:

My enigste troos in lewe en dood

Is dat ek aan Jesus Christus behoort

Met sy kosbare bloed het Hy my vrygekoop

Dit is my anker my vaste hoop.

Ek behoort nou aan Jesus

Niks sal my van Hom kan skei

Met sy kosbare bloed het Hy my vrygekoop

Dit is my anker my vaste hoop.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Yvonne ·

Amen..dankie Here dat U alreeds die geveg oorwin het….vir ons

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.