ToekomsVenster: Die dood van Johannes die Doper

boom-in-veld

Foto: Johann Siemens/Unsplash.com

Die koning was baie verslae, maar omdat hy dit voor die gaste met ‘n eed belowe het, wou hy haar dit nie weier nie. Hy het dadelik iemand van sy lyfwag opdrag gegee en hom gestuur om Johannes se kop te gaan haal. Hy het hom in die tronk gaan onthoof, sy kop in ‘n skottel gebring en dit vir die meisie gegee, en die meisie het dit vir haar ma gegee. Toe Johannes se volgelinge daarvan hoor, het hulle gekom en sy lyk weggeneem en begrawe. – Lees Markus 6:17-29

Die afgryslike verhaal dring ʼn mens tot stilswye. Enersyds die koelbloedige moord op ʼn Godsman van wie die koning self getuig dat hy eerbaar en opreg was. Daarmee saam die gebrek aan ruggraat by die gekose leierskap van die dag.

“Nee” is ook ʼn antwoord. Jou beeld by ander is van minder belang.

Elia leef ook in ʼn tyd waar die koning aangevuur deur sy goddelose vrou Isebel Godsmanne gevoelloos om die lewe bring.

Ons hoor in ons dag van gruweldade wat in die naam van godsdienstige ekstremiste gepleeg word. Onskuldige mense, Christene, wie se enigste oortreding is dat hulle mense van die Weg is, word brutaal en voor die voet vermoor, somtyds vir dertig stukke silwer soos met Judas Iskariot. Hier verwys ek na lospryse wat beding word vir die vrylating van politieke gevangenes.

Vervolging van Christene vind wêreldwyd plaas en neem verskeie gestaltes aan. In sommige lande word Christene aan die aller verskriklikste vergelding en vervolging bloot gestel. Die saad van die martelare is die saad van die kerk. Openbaring vertel dat onder die altaar die stemme van hulle wat onregmatig om die lewe gebring is roep na die geregtigheid van God. Daar kom ʼn dag van afrekening. Daar kom ʼn dag van regspraak.

Die Bybel sê vreeslik is dit om te val in die hande van ʼn lewende God.

In die onlangse verlede is Werner Groenewald en sy twee kinders in Kabul in Afghanistan deur die Taliban doodgeskiet. Gelukkig was sy vrou (wat as ʼn dokter in ʼn hospitaal gewerk het) ongedeerd. Werner was ʼn onderwyser in Kabul, en betrokke by liefdadigheidswerk. Hulle het as gesin die Here getrou gedien. Die Taliban het aanspreeklikheid vir die moord aanvaar, en op Twitter gesê “the compound was that of a secret Christian missionary group.” Werner en sy gesin se lewe het ʼn groot impak gehad op mense rondom hulle.

In die tweede eeu n.C., toe duisende gelowiges doodgemaak is vir hulle geloof in Christus, onder andere rofweg in daardie selfde streke waar Werner gesterf het, het Tertullianus (wat ʼn teoloog was in Noord-Afrika) gesê: “Die bloed van die martelare is die saad van die Kerk”.

Die storie van die Korkie gesin is eweneens bekend.

Die vinnige praat en beloftes maak wat jou duur te staan kan kom is ʼn verdere belangrike saak in die teks. Herodus aangevuur deur sinlike genot en die wulpse dans van sy broer se dogter belowe sonder om die impak van wat hy sê te oorweeg die skottelgereg aan sy vermeende vrou aan. Hoe aaklig.

Praat jy ook te gou, ook wat beloftes aan God betref? “As U my help met hierdie saak, verleentheid, uitdaging, as U voorsien, As U ingryp, ens. ens. sal ek…”

Die Bybel sê ons moet stadig wees wanneer dit kom by beloftes maak aan God. Hy hou nie van oppervlakkige godsdienstigheid nie. Vertrou God eerder vir en in alles en leef elke dag dankbaar vir sy genade.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.